MAPUNGUBWE – DIE “HEUWEL VAN DIE JAKKALS”
Wintertyd is Bosveld-tyd met die lang pad Noorde toe. Daar waar die hardekoolvuurtjie jou vleisie beslis anders laat smaak. Mapungubwe Nasionale Park, digby Musina, wag ons (normaalweg) gereeld in wintertyd ruimhartig met erfenis, skoonheid en diversiteit in. Die kremetart-kolosse hier wat meer as ’n duisend jaar oud is, laat die werklikheid van jou eie verganklikheid behoorlik insink.
Die antieke stad van Mapungubwe, bewoon deur die voorsate van die Shonas, is ’n ou Ystertydperk- argeologiese terrein in die Limpopo-provinsie. Tydens ’n buitelug-uitstappie van drie uur na die magiese Mapungubwe-heuwel, verduidelik Cedric Setlhako, die amptelike gids by hierdie Unesco-Wêrelderfenisgebied, dat daar eers vanaf 1932 toe die terrein ontdek is, begin is met navorsing deur die Universiteit van Pretoria.
Die koninklike gesin het bo-op hierdie “Heuwel van die Jakkals” gebly. Met ’n stewige klim van 147 houttrappies teen die rotsskeur, presies op dieselfde plek waar proviand destyds boontoe gebring is, kry jy ’n kykie in die lewe van eeue terug.
Die ligging van die grotere Mapungubwe was strategies perfek vir hierdie koninkryk van 5 000-7 000 mense. Die magtige Limpopo- en Shasheriviere ontmoet mekaar hier en die koninklike hof van Mapungubwe het handelaars en invloedryke reisigers vanaf die Verre Ooste en Europa ontvang. Europa was op daardie stadium gedompel in die Donker Middeleeue terwyl die ryk van Mapungubwe, ongeveer 1050-1270 nC, die sentrum van die grootste antieke koninkryk op die subkontinent was. Daar is vrylik met goud en ivoor handel gedryf – oorblyfsels hiervan is in van die grafte op die heuwel ontdek waar koninklikes in ’n sittende posisie begrawe is.
Dag twee was met adrenalien gelaai. Ons het die son gesien opkom op die boomtop-loopgang (“tree top boardwalk”) wat op die Limpopo-samevloeiing uitloop. Botswana, Zimbabwe en Suid-Afrika vat hier hande. Hoog, 8-10 m bo die grond, lei die surrealistiese, wonderlike loopgang op stelte jou vir 40 m tussen koorsbome en akasias deur. Hierdie ervaring van hoogte, klank en verblindende kleurespel word onderstreep deur die aanhaling by die ingang na die loopgang uit die digter, Rudyard Kipling, se “The Elephant’s Child” uit sy Just So Stories: ”Go to the banks of the great grey-green, greasy Limpopo River, all set about with fever-trees, and find out.”
Niks kon ons voorberei op die imposante Interpretasiesentrum nie. Die gebou het in 2009 die “Wêreldgebou van die jaar”-toekenning ontvang. Geboue uit Singapore, New York en China is hiermee uitgestof. Die kompleks se ongewone lyne, kurwes en unieke kombinasie van boumateriale, gekombineer met omgewingsensitiewe boumetodes, is uniek. Kulturele erfenis, eeueoue landskap en antieke geskiedenis word hier funksioneel verweef en artifakte word hier vir die nageslagte bewaar. ’n Afbeelding van die goue renoster, waarvoor Mapungubwe so bekend is, word ook hier uitgestal.
Leokwe-kamp, ons blyplek vir die vier nagte, is in die oostelike deel van die park tussen sandsteenheuwels geleё en is ’n geologiese openbaring. Die unieke rivierplantegroei, reusemopanewoude en savannaveld is die visuele verhoog vir volop wild – die troppe olifante, kameelperde, renosters, elande, gemsbokke en ander klein boksoorte.
Terwyl ons vier dae later wegry uit Mapungubwe Nasionale Park, is dit asof ’n mens uit ’n tydsmolekule ontsnap, weg van die Bosveld-son, antieke sandsteenformasies en kremetarte, wat ons met eeueoue arms vaarwel toeroep.