MY BALI – VAN RYS TOT RAMBUTAN

Volgens ’n plaaslike boer in Ubud word ryslanderye deur middel van die tradisionele Balinese besproeiingstelsel bekend as subak van water voorsien. Die subak is ’n tradisionele besproeiingsbestuursinstelling vir rysverbouing wat hier deur die eeue ontwikkel is.

Terwyl ’n deel van die bevolking van Bali geleidelik van besproeiingsryslandbou wegbeweeg en toenemend van inkomste uit toerisme afhanklik word, bly heelwat kleiner boere in landelike omgewings tog by die verbouing van rys as hulle primêre bron van bestaan. Dit neem ses maande van plant tot oes. Rys word hier met die hand geoes en met mandjies uitgeskud totdat net die korrels oorbly. Die lande word afgebrand om die grond vir die volgende planttyd gereed te kry. Daar word, aldus die boer, drie soorte rys geplant: normal rice wat vir geregte soos Nasi Goreng en geelrys gebruik word; sticky rice wat groter plante het en black rice waarmee een van my gunstelinggeregte, black sticky rice pudding, gemaak word.

In groter areas word boere in koöperatiewe waterbeheerrade georganiseer en is die rysterrasse regtig iets te sien. Natuurlik is dit ook ’n groot toeriste-aantreklikheid. Die gemiddelde plaas is 1-2,5 hektaar. Ongeveer ’n kwart van die landbou-oppervlakte word besproei, die res word vir onder meer verbouing van jams (yams), kassawe (cassava), borrie, mielies, vrugte en soms koffieaanplantings gebruik.

Die eetbare knol van die jams het ’n growwe vel wat moeilik is om te skil, maar maklik versag word deur te kook. Dit word dikwels gekook en dan in ’n taai pasta of deeg fyngemaak, maar kan ook soos aartappels/patat gebraai, gerooster of gebak word. Die kassawe se wortel word ook soortgelyk geskil en normaalweg gekook en word vir sop, bredies, purees en selfs nageregte gebruik.

Borrie word nie net as ’n spesery vir kookdoeleindes gebruik nie, maar ook vir ’n baie gewilde en gesonde drankie Jama juice. Die vars (geel) borrie word met gemmer, lemmetjie, klappermelk en heuning gemeng en was nogal (vreemd genoeg), lekker.

Vrugte soos piesangs (pisang goreng, een van my gunstelinge), lemoene, mango’s, papajas, grenadellas, pynappels en pomelo is aan ons goed bekend. Ander vrugte, soos Snake Fruit, Dragon Fruit, Mangosteen, Jackfruit, Durian, Rambutan (selfs groen en oranje kokosneute), is dalk nie so bekend nie.

Die naam Snake Fruit verwys na die vrug se skil, maar die tekstuur is baie soos ’n appel/peer met ’n soetsuur smaak. Die Dragon Fruit met sy helderpienk skil is ’n pragtige vrug met ’n unieke smaak, iets soos ’n kombinasie van kiwi, peer en waatlemoen. Mangosteen het ’n verfrissende smaak en ’n stewige pers skil wat die wit vlees aan die binnekant beskerm.

Jackfruit is ’n stekelrige, groen reus wat sy plek onder die “holy trinity van Balinese kookkuns saam met klapper en borrie verdien. Dit kan in verskeie geregte van kerries tot soetkoeke gebruik word. Rambutan is ’n harige, helderrooi vrug, met sappige vleis en soet geur wat heerlik is en alhoewel dit nie aan lietsjie verwant is nie, het dit my baie daaraan laat dink. Ek het van die vars oranje kokosneut se water gedrink, maar was nie beïndruk nie. Durian met sy sterk reuk is die enigste vrug waarvoor ek nie kans gesien het nie.

Volgende keer vertel ek meer oor onder meer, die indrukwekkende koffieplantasies.