Ek het onlangs die voorreg gehad om saam met my geliefde moeder deur Bali te reis. Soos die meeste van julle nou al weet, is die Google-ding nie een van my top-aktiwiteite nie. Ek moes egter noodgedwonge ’n paar blogs skandeer ter voorbereiding. Die resultaat was dat ons hier wegtrek met tasse muskiet-afweerder, son-blokkeerder, snesies, Wet Wipes, selfs geldsakkies wat onder klere verskuil word vir al die skobbejakke wat in die strate rondhang.

Ons arriveer in Ubud, ’n plattelandse desa (dorp), bekend vir sy kuns en tussen rysvelde, plase, bosbouplantasies en steil klowe in die sentrale voetheuwels van die Gianyar-regentskap geleë. Dit vorm ’n noordelike deel van die metropolitaanse gebied Groter Denpasar. Die administratiewe distrik het ’n bevolking van sowat 74 800 in ’n oppervlakte van 42,38 km².

Die oord waar ons bly, Atta Mesari Resort & Spa, se Rice Terrace Suites het lieflike ruim slaapkamers wat oopmaak op tuine. Wat ons egter eerste opval, is nie net die ontvangs met vars vrugte en vrugtesappe nie, maar dat almal (en ek bedoel ALMAL) wat ons teëkom, ons glimlaggend, met hande teen mekaar en ’n effe van ’n buiging, groet: Selemat pagi (goeiemôre tot 12h00); Selemat sian (goeiemiddag 12h00-15h00); Selemat sore (goeiemiddag 15.00 tot sonsondergang) en Selemat malam (goeienaand).

Ons eerste georganiseerde toer op dag 1 is ’n werkwinkel om silwer juwele te maak. Dit is ’n onvergeetlike ervaring waar ons met die hulp van kundiges en 100% deelname aan die (veeleisende) vervaardigingsproses, na drie uur met ons eie, selfgemaakte juwele trots daar weg is.

Ons tweede stop is by ’n tradisionele Balinese huis. Hier leer ons meer oor die wonings wat bestaan uit aparte geboue, slaapkamers spesifiek (hetsy noord, oos, suid of wes), kombuis, badkamer en ’n area vir seremonies elkeen op sy eie plekkie. Gesinstrukture is vir die Balinese baie belangrik met die ouma en oupa in een kamer en pasgetroudes in een kamer. Wanneer ’n baba gebore word, skuif die ma en baba na ’n aparte kamer, wanneer die baba groot genoeg is, skuif dié na die aparte kinderkamer en die ma weer na pa se kamer. Seuns en dogters word wanneer hulle geslagsryp is, geskei. Die kamers is geplaas binne die lewensloopsirkel – jy begin noord en eindig in die weste op jou oudag.

Wonings en ’n omliggende stukkie grond wat met rys beplant is, bly in die familie van generasie tot generasie. Die jongste seun werk op die grond en erf dit, die oudste seun gaan uit om ander werk te doen (gewoonlik in die toerismebedryf) en hy betaal die belasting op die eiendom. Wanneer die seuns trou (die oudste behou sy werk buite die familiegrond), trek die jong bruid saam met haar wederhelf na die man se woning, hulle bly in ’n aparte kamer totdat die kringloop weer herhaal. Addisionele kamers word altyd agter in die erf aangebou. Dogters skuif na hul wederhelwe se tuistes. Die grond word nie gekoop, verhuur of verkoop nie en rys word deur die familie self geplant en verwerk. Sodoende het elke familie werk, kos en blyplek en is daar, ideaal gesproke, geen boemelaars nie.

Tot dusver was ons nog net een dag in Ubud, is die dag uitstappie nog nie afgehandel nie en het ons nog geen nut vir ons oorswaar tasse se inhoud gehad nie. As ek ’n volgende keer weer (’n paar) geleenthede kry, kan ek verder vertel oor my belewenis van hierdie merkwaardige en motiverende land, sy kos, kultuur, kuns, landbou, herwinningsprojekte, natuurbewaring, verdraagsame samelewing en hulle positiewe uitkyk op die lewe.