‘n Hupstoot

Soms is ek nie altyd seker waar om te begin nie, en dan, wanneer ek geduld aan die dag kan lê, is daar  ʼn meevaller wat oor my wel en weë kom wat my darem ‘n hupstoot gee. Hoe meer ek oor die woord hupstoot tob, hoe meer kom die volgende gedagtes by my op…

Ek reken ‘n hupstoot kom in verskillende geskenkpakkies. Tydens fietsry vroegoggend saam met vriende, sien ek my vriendin se man wat liggies sy hand op haar rug plaas en ‘n handjie bysit om haar die bult op te help.

Daardie blink gedagte wat gedeel word tydens ʼn dinkskrum help om alle blokkasies uit die weg te ruim. Die luister na ʼn inspirasie potgooi wat die gemoed lig en jou dopamienbarometer uit die rooi stoot.

Die hartlike stem wat hulpvaardig klink en is wanneer jy jou inkopies betaal of navrae het. ʼn Vreemdeling wat aanbied om hand by te sit wanneer dit kom by barmhartigheidswerk in die gemeenskap.

ʼn Pluimpie of dankie wat jy kry wanneer jy dit die minste verwag, maar tog soms nodig het. En ek aanvaar dat die lys hupstootinsidente so kan groei.  Of dit nou in woorde, dade of gebare is.

Die vraag kom by my op: watter tipe mens is ek? Een wat hupstootgeleenthede kan skep en laat gebeur vir myself asook vir ander? En seker veel wyer: hoe kan my hupstootoptrede en -dade in die gemeenskap waarin ek leef ‘n verskil maak?

Ek sluit af: elkeen van ons beskik oor die potensiaal om ʼn “hupstoot”-mens te wees en te kan word. Die besluit berus by jou.