’N VEERTJIE IN JOU HOED

Vroeër jare het ons foutiewelik na hedendaagse Inheemse Amerikaners as “Rooi Indiane” verwys. Dit was natuurlik Christopher Columbus se skuld, want toe hy die Amerikaanse kontinent in 1492 bereik, het hy gedink dit is Indië, vandaar die naam.

Die Inheemse Amerikaners (Amerindiaanse stamme) glo reeds vanaf antieke tye in Animisme (vandag word hierdie holistiese beskouing meer algemeen aanvaar). Animisme beteken dat alles in die heelal ’n gees (spirit) het – mense, plante, diere en selfs natuurlike verskynsels.

Afhangende van waar hulle woonagtig was, het sommige Amerindiaanse stamme pelse, horings, mandjiehoede of hooftooisels van dierehare (soos ystervarke) gedra – alles betekenisvol. In ons geestesoog (en deur films versterk) sien ons egter meestal hooftooisels wat uit vere bestaan. Alhoewel heelwat stamme verskillende veretooisels gedra het, is sekerlik die bekendste dié van die Lakota Sioux, wat tydens oorloë manjifieke verehooftooisels gedra het.

Stamme wat vere in hul hooftooisels gedra het, het voëls beskou as boodskappers van die geeste wat gedurende hul leeftyd wysheid, beskerming, vrede of mag na mense gebring het. Wanneer ’n voëlveer uitgeval het, is dit gesien as ’n “voertuig” wat energie oordra aan ’n ontvanger wat die eer verdien. Eerstens is die kleur van die vere vertolk: oranje is beskou as tekenend van energie, kreatiwiteit, optimisme en sukses; pienk het na romantiek, vriendskap, empatie, vriendelikheid en inspirasie verwys; rooi is gekoppel aan lewensessens, passie, moed, goeie geluk en emosies; blou het kommunikasie, vrede, kennis en spirituele beskerming verteenwoordig; pers het na spiritualiteit verwys; swart na die afsluiting van ’n hoofstuk (nie noodwendig die dood nie), en natuurlik was wit tekenend van vrede, geloof, suiwering en die hemel.

Tweedens was daar ook unieke interpretasies van elke tipe veer. Só was die uil die boodskapper van die nag; die valk die boodskapper van die dag; duiwe (soos in baie gemeenskappe) ’n teken van vrede; kalkoen ’n teken van wysheid, oorvloed en trots; en kraaivere het beteken jong seuns gaan krygers word.

Die hoogste eerbewys vir hierdie stamme was die toekenning van ’n Goue Arend-veer. Dit was ’n beloning deur ’n stamhoof aan ’n kryger vir ’n diens van dapperheid, hetsy ’n oorwinning tydens oorloë, of deur iemand se lewe te red. Hy (slegs mans kon dit dra), kon net hierdie veer in sy hooftooisel steek tydens ’n byeenkoms met die stamhoof wanneer hy die res van die mense van sy oorwinnings vertel het. As ’n herinnering hieraan moes hy die veer versorg en dit altyd tydens seremoniële geleenthede dra sodat die hele stam dit kon bewonder. Hoe meer vere ’n kryger in sy hooftooisel gedra het, hoe hoër was sy rang.

Die uitdrukking “’n Veer(tjie) in iemand se hoed” – om iemand ’n kompliment te gee – is ’n verwysing na hierdie ou gewoonte van Amerindiaanse (en ander) volke deur die eeue, om ’n nuwe veer in hulle hooftooisels te steek vir elke vyand wat gedood is. Ook in Skotland en Wallis het die jagter wat die eerste houtsnip van die seisoen geskiet het, die eer gehad om die veer in sy hoedband te dra. Vandag hoef ons egter nie meer iets te dood om ’n kompliment te ontvang nie. So aan The Post, hier is vir julle ’n veertjie in die hoed – baie geluk met jul publikasie wat maand na maand ons as lesers se lewens verryk.