SLEGS SKAKERINGS VAN GRYS?
Ek was onlangs by ’n geleentheid waar baie mense bymekaargekom het, waarvan onder meer ’n netjiese jong man met skouerlengte hare. Dik, gesonde hare wat goed versorg is. Van waar ek sit, hoor ek hoe die jongman se lang hare reaksie uitlok. Negatiewe reaksie. Mense skud hulle koppe en sê dat hulle dit nie kan verstaan nie. En so, onwetend, slaan hulle die spyker op die kop. Mense reageer op ’n negatiewe manier, want hulle probeer die vreemde, vanuit húlle verwysingsraamwerk verstaan. Iets wat onbekend of anders is, bedreig dít wat ons self glo, of waaroor ons beheer het. Die onbekende en dit wat dit bring, wek by die meeste mense vrees oor hoe hulle die vreemde of anderse moet hanteer.
Tydens ’n hospitaalbesoek jare gelede, word ek met dieselfde situasie gekonfronteer. Al die besoekers aan die pasiënt langsaan, mans en dames, se arms en bene was buitensporig getatoeëer (in die dae voordat dit mode geword het). Die mans het óf lang, dun poniesterte gehad, óf was kaalkop. Hulle was ’n luidrugtige klomp wat hard gepraat en gelag het op ’n wyse wat baie ander besoekers ongemaklik laat voel het. Later knoop die een man met ons ’n geselsie aan. In die gesprek word dit duidelik dat hy in sy jonger dae ’n uitsmyter by ’n nagklub was en dat hy op ’n dramatiese wyse sy lewe omgedraai het. Hy is nou die pastoor by ’n kerk wat onder die motorfietsryers en uitsmyters werk en is tans op hospitaalbesoek. Ek kan so goed onthou hoe versigtig ek vir hierdie vreemde groep mense was wat so anders as ek gelyk en opgetree het, net om te ontdek dat ons eintlik maar baie dieselfde is en ek eintlik baie het om by hulle te leer.
Wanneer ek iemand oordeel omdat hulle anders as ek is, bedoel ek eintlik dat ek dink dat ék en mý manier reg is, en dit is ’n siening wat meer vyande as vriende sal maak. Ek het vroeg al agtergekom dat jy eerder aangenaam verras word deur mense wat jy, deur jou eie beperkte persepsie van hulle menswees, in ’n kategorie wil plaas van dinge wat jý nie weet hoe om te hanteer nie. Baie mense sal as vreemd beskou word bloot omdat hulle anders aantrek, ’n unieke manier het van lewe of om na die wêreld te kyk, of opinies te hê wat nie heeltemal hoofstroom is nie. ’n Groot deel van die probleme in ons hedendaagse samelewing is, volgens my mening, juis as gevolg van mense wat dink dat húlle manier van dink en doen, die enigste of regte manier is. Ek weier om my wêreld tot ’n monokrome kleurskema te beperk en kies om “anders” telkens ’n kans te gee om my lewe te kom inkleur. En jy?