STORIES…

Soms skryf ek stories in my kop, stories wat hul oorsprong het uit ʼn vertelling, ʼn woord, ʼn foto of insident.

Nie elke storie is oorvertel materiaal nie: sommiges het vlerke wat op ʼn verbeeldingsvlug van ontsnapping gaan, ander is ʼn boetedoening. Hoe dit ook al sy, “stories” is alombekend.

Ek wil glo dat elke mens ʼn verhaal in hul ronddra: nie die  storie wat ander te hore gekom het oor jou nie, selfs nie die storie wat iemand oor jou geskryf het nie, ook nie die storie wat jy graag wil voorhou nie …

Maar eerder ‘n vertelling: rou en onopgesmuk, die een wat jou vul met vrees, diepe rou en kwytskelding; een met trane van histeriese lag, van terugklouter uit die diepste donker afgrond, met letsels van waar jy was; van oplewing en herlewing, nuwe hoop, menswaardigheid, gelouter en dan… is dit volbring. Waar vlees liggaam en skaduwee ʼn eendrag van versoening word.

Elke “menswees” storie het waarde, en is waardig – want dit is jóú storie. ʼn “Eie ek” storie wat nooit geweeg en te lig of te swaar sal wees op die lewenskaal nie – nie ʼn storie van vertelling of opteken vir ander om te hoor of lees nie…

Omarm jou vertelling, teken dit op vir jouself, herleef die filmstrokies want hiérdie is  ʼn storie;  jou storie van jou, vir jou, oor jou.