TOEKOMS

Tussen al die nuwe uitbreidings en woonbuurtes in die gebied tussen Tergniet en Groot-Brak lê daar ’n rustige woonbuurt genaamd Toekoms. Kan daar ’n mooier naam wees vir ’n klein gemeenskap wat altyd in ’n toekoms vir hulle en hul kinders geglo het?

Die sendingstasie wat op Friemersheim deur die Duitse sendelinge gestig is, het ook die grondgebied besit wat nou as Toekoms bekend is. Die kerkgrond is tans geregistreer in die naam van die kerkraad van die Friemersheim Verenigde Gereformeerde Kerk. Die gemeenskap wil graag individuele grondsekuriteit bekom en het aansoek deur die Distrikskantoor te George gedoen om deel te vorm van die Departement van Grondsake se Grondhervormingsprogram. Tans vorm Toekoms een van 28 projekte in die Grondhervormingsprogram van die Suid-Kaap.

Hoe groot is Toekoms? Dit beslaan 9 hektaar en is op 6 Augustus 1949 deur die Friemersheim Sendinggemeente gekoop van David Benjamin Jonck. Mnr A Raubenheimer het ’n opname gedoen en gesien dat daar genoeg leerders vir ’n skool is in die gebied en daarom is die grond gekoop. Die skool is in 1950 geopen en het talle leerders gehelp om groot hoogtes te bereik. Vandag gaan die meeste kinders na Groot-Brak se skole en het Toekoms nie meer ’n skool nie.

Daar het reeds heelwat mense op die grond gebly nog voordat die grond gekoop is en baie inwoners woon al meer as 50 jaar daar. Baie se voorouers is ook daar begrawe. Deesdae is baie van die inwoners pensioentrekkers, weduwees sonder inkomste, mense wat ongeskiktheidtoelaes ontvang, ens.

Die grond word toe aangebied aan die VGK-kerk van Groot-Brak, maar hulle kon dit nie bekostig nie. Die latere burgemeester van Mosselbaai, Harry Levendal, het gesorg dat die gemeenskap wel die grond kry deur die SCLC (Southern Cape Land Committee) se ingrepe.

Toe die Groot-Brak Sendingkerk in Maart 1976 afgestig het, het Friemersheim die vruggebruik as bruidskat aan die Groot-Brak Sendingkerk oorgedra omdat dit die jongste en kleinste gemeente in die ring was. Die gemeenskap van Toekoms is lidmate van die Groot-Brak VGK waarvan ds Strauss die leraar is terwyl die grond in trust gehou word deur die Friemersheim VGK.

Voor 1994 en die nuwe ANC-regering het die Department van Grondsake ook gehelp. Daar word dadelik ’n CPA ( Community Property Association) gestig wat daarvoor verantwoordelik is dat niemand die grond mag koop of verkoop sonder die ander lede se toestemming nie. Daar was pogings om die inwoners tydens die Apartheidsjare uit die gebied te verwyder onder die Groepsgebiedewet, maar dit het nie geslaag nie.

Een van die raadslede wat op die Munisipaliteit van Mosselbaai dien, Donovan Claassen, is ook op Toekoms gebore en het daar skoolgegaan (hy is ook die voorsitter van die Toekoms Inwoners Vereniging en het die inligting aan die skrywer verskaf). Goeie vakmanne soos skrynwerkers, messelaars en bouers, asook prominente leiersfigure, is op Toekoms gebore en kom vandag nog terug na hulle heimat. Tot in 1990 is daar min dienste op Toekoms gelewer, maar deur die toedoen van die vorige burgemeesters soos Marie Ferreira en Harry Levendal het Toekoms nou lopende water, elektrisiteit en ander dienste. Die vroue van die dorp het die pad in die dorpie met stene geplavei.

Toekoms is reg langs die saagmeule wat werk aan baie van die mense verskaf het. Ongelukkig is die saagmeule gesluit, maar daar werk ook van Toekoms se mense by die skoenfabriek op Groot-Brak. Die Con-kerk besit die saagmeule se grond en daar word nou beplan om ’n ouetehuis op die grond te bou. Die huidige munisipaliteit van Mosselbaai is die enigste munisipaliteit in die Wes-Kaap wat ’n Landelike kantoor het en hulle help Toekoms waar hulle kan.