WAT JOU DIERE VAN JOU SÊ
Diere en hul welstand is iets wat my baie na aan die hart lê. Geen dier, net soos geen mens, behoort te ly of sleg behandel te word nie.
Nederland het die eerste land ter wêreld geword waar daar geen rondloperhonde is nie. Die probleem van diere wat bly aanteel en sonder behoorlike sorg oral in die strate rondloop, is geïdentifiseer en ’n plan in werking gestel wat mettertyd hierdie noemenswaardige resultaat teweeggebring het. Verskeie instansies en die regering het saamgewerk en ’n langtermynproses aan die gang gesit waar rondloperdiere gevang, gesteriliseer, gevaksineer en teruggeplaas is waar hul vandaan kom. (Indien die diere nie teruggeplaas word nie, word hul bloot vervang met nuwe diere wat wéér vrugbaar is en kan aanteel.) Sodoende word ’n steriele populasie geskep en op die lange duur, minder hawelose honde. Om diere in skuilings op te neem, help om die onmiddellike probleem aan te spreek, maar is nie volhoubaar nie. Opvoeding en registrasie van troeteldiere het verdere bene gevorm om saam met die bogenoemde program, die probleem van rondloperhonde uit te roei. Belastings is geplaas op diere wat nie by skuilings aangeskaf is nie om “adopt, don’t shop” aan te moedig.
Ek is van mening dat die manier waarop diere in ’n land behandel word, ’n goeie indikasie is van die tipe mense wat daar woon. Wat sê die vol diereskuilings en ons ingesteldheid teenoor diere wat ly, mishandel of aan eie (of ander se) genade oorgelaat word oor ons? Is dit maar iemand anders se probleem? Jy hoef nie ’n diereliefhebber te wees om standpunt in te neem teen roekelose eienaarskap, wreedheid en verwaarlosing van diere nie.
Jy hoef bloot te vra wat reg of verkeerd is. Voed die mense in jou invloedsfeer op oor verantwoordelike troeteldiereienaarskap en waar moontlik, staan hulle by. Indien jou hart reg klop, reik uit en help dáár waar nood is, of deur die hande van dié wat reeds optree, te versterk. Jou R10 is maar ’n druppel in die emmer, maar 100 mense wat elk dink “dis maar net R10, watse verskil sal dit maak?”, is saam R1 000 en daarmee kan twee honde al gesteriliseer word! Gaan oor tot aksie! Jou deel maak wel ’n verskil!
“I am only one, but still I am one. I cannot do everything, but still I can do something; and because I cannot do everything, I will not refuse to do something that I can do.” Edward Everett Hale