WIE NIE VRA NIE …
“Wie nie vra nie, kry nie.” Dit klink baie logies, want hoe gaan iemand weet dat jy iets nodig het as jy nie vra nie? Dít is egter presies die punt – ons vra nie, en daarom kán ander nie weet nie, en sal ons nie kry nie. Hierdie kort, kragtige stelling bestaan uit twee dele wat nodig is om die somtotaal waar te maak.
Gedurende die streng grendeltyd van Mei 2020 ontwikkel my dogter, wat toe in Nederland ’n au pair was, ’n ernstige tandabses wat nie deur haar mediese versekering gedek word nie. Sy het vreeslike pyn en kry toe ’n kwotasie (in euro) om haar seer tand te behandel. Dit sou letterlik goedkoper gewees het om haar Suid-Afrika toe te laat vlieg, haar tand hier te behandel, en weer terug te vlieg Europa toe! Grense was egter gesluit en hierdie uiterste “plan” van ons sou nie uitgevoer kon word nie. Terloops praat ek met ’n kollega oor dié onmoontlike situasie. Die volgende dag kom deel sy my mee van haar dogter wat ’n skoolvriend het wat as tandars na Nederland geïmmigreer het, en dat haar dogter op Facebook met hom kontak gemaak, en van mý dogter se penarie vertel het. Die skoolvriend het dadelik terug laat weet dat hy graag my dogter se tand sal behandel. Hy gaan haar ook niks daarvoor vra nie, want hy kry nooit die geleentheid om iets goed te doen vir iemand uit sy vaderland nie. As ek nie oor die probleem gepraat het nie, sou hierdie storie moontlik ’n duur en pynlike uiteinde gehad het!
Om te kan gee, is ’n gawe wat sommige mense besit. Ons almal besit die potensiaal om te kan gee, maar sommiges onder ons, besit die gawe om te kan gee. Hulle hoef nie daaroor te dink nie, hulle hoef nie ’n punt daarvan te maak nie. Dit is ’n natuurlike uitvloeisel van hul persoonlikhede om uit te deel, te gee, ander te “bless”. Ek verwys glad nie na geld nie, maar eerder na iets eenvoudigs (dog kosbaaar) soos tyd, ’n oor om te luister, of om hulp te verleen wanneer iemand moontlik oorweldig is deur ’n spesifieke situasie of gebeurtenis.
Omdat gee vir party makliker kom as vir ander, beteken nie dat slegs die gewers onder ons wel gee nie. Die gemiddelde mens is meestal bereid om te gee, alhoewel hul nie spesifiek daarop ingestel is nie.
Die probleem bly egter, dat alhoewel daar bes moontlik oplossings en hulp beskikbaar is, dit steeds die aksie van vra verg om te kenne te gee dat ons iets benodig. Hierin lê die probleem. Mense mag huiwerig wees om te vra omdat hul moontlik skaam voel om te erken dat hul hulp benodig. Of hul kan die aanname maak dat dit hoogs onwaarskynlik is dat hul spesifieke behoefte aangespreek kan word, en dan nie eers ’n kans waag om te vra nie. Die moontlike oplossing tot ons probleem word soms sommer al in ons koppe tot niet verklaar, en dit terwyl die potensiaal bestaan, dat daar wel ’n antwoord op ons vraag kon wees.
Wanneer ons nie ons hand opsteek om vir hulp te vra nie, kan ons nie hulp verwag, of nog erger, kwaad wees omdat mense nie hulp aanbied nie. Eers as jy vra, kan jy ’n verwagting hê om te ontvang. Mag jy in 2024 ontvang waarvoor jy vra, maar ook bereid wees om die antwoord te wees, wanneer iemand anders sou vra.