DIE HEEL BESTE IS WANNEER JY VIR JOUSELF KAN LAG
Toenemend groei die bewustheid in my dat dit goed is wanneer jy soms alleen kan lag en saam met ander kan lag. Maar die heel beste is wanneer jy vir jouself kan lag.
ʼn Maandag kondig gewoonlik die begin van ‘n werksweek aan. Ek het al gehoor dat vriende so in hul sewentigs plus murmureer dat dae later nie meer saak maak nie, nog minder datums, so ek moet aanvaar die begin van ‘n werksweek maak dan ook nie saak nie. Terug na die Maandag wat vinnig besig is om ʼn lewe van sy eie aan te neem.
Ons almal onthou die dae van ouds wanneer jy nie opgelet het in die klas nie. Wel, sou jy nie oplet dat jou bestuurslisensie verval nie kan jy verseker wees: boete gaan jy doen op een of ander manier. Nie alleen kry jy ʼn liefdesbrief wat smal, lank en lenig soos spaghetti is nie, dit gaan gepaard met ‘n “Jammer, ek moet.”
So betree ek die Maandag die plaaslike lisensiekantoor, word vriendelik gehelp, groen vorm ingevul, foto geneem op die boonste vloer, kom terug vir oogtoets en betaal.
Vergun my om stil te staan by die fotosessie, wit papier geplak teen die effe vaal muur en kroegstoel. Die dame, nogal vriendelik, vra of ek gereed is, en ek vra spottenderwys of ek moet glimlag. “Jy kan, maar nie te veel nie,” kom die antwoord.
Amper soos in die rolprente: take 1, take 2, take 3. Dan moet ons maar instem op een, aangesien die volgende persoon klaar regstaan. Die res verloop flink en vinnig en ek is vroeg genoeg tuis om darem ‘n halwe dag se werk in te kry.
Nog is dit nie die einde van fotosessies nie. Nuwe foon, nuwe bank toep wat afgelaai moet word, en hier gaan ons weer. Nie alleen word daar van my verwag om die foon tot omtrent by my neus te hou nie, ek moet rekening hou met die ovaal raampie waar my gesig moet inpas, en die foon wat instruksies gee. “Closer, closer, light exposure, dark.” Hierdie keer is dit net ek en ek alleen.
Dit is tydens hierdie selfie pogings wat ek my toe oorgee aan oordadig lag en nog ‘n keer lag, want dit kan ek goed doen. Ek het nuwe bewondering vir diesulkes wat met soveel selfvertroue selfies neem. Ek, is nog nie daar nie.