Editorial Maart
Kiertsregop sit ek geduldig in die “voorhuis” van my oogkundige in afwagting op my beurt. Ek voel effe skuldig, eerstens aangesien ek deeglik bewus is van die feit dat hierdie afspraak reeds ’n jaar terug moes plaasvind en tweedens omdat ek nie kan help om elke woord van die oogkundige se telefoniese gesprek te hoor nie. Dit is dan juis tydens die afsluit van die gesprek dat sy die volgende woorde gebruik, “Jy wen soms, jy leer soms.” Sou mens dit vertaal na Engels is dit seker die bekende woorde, “You win some, you lose some.”
Sommer daar en dan vind die woorde byval by my en ek besluit op die plek hierdie woorde moet ek in my knapsakkie van onthou bêre. Die eenvoud van om ’n woord te vervang ten einde dit ’n positiewe inslag te gee anders dan die potensiële negatiewe aanslag is beslis die moeite werd. Verder dat ’n woord oor die vermoë beskik om ’n totaal ander uitkoms te bewerkstellig van ’n gedagte, ’n gevoel en moontlik ’n daad. Ek stap daar uit, nie net beïndruk deur die kundigheid van my oogkundige nie, maar ook deur haar uitkyk.
Ek besef opnuut dat enige situasie of gebeurlikheid die potensiaal inhou om te leer. Miskien het dit ook iets te doen met die feit dat ons onsself in ’n era bevind waar alles vinniger beweeg en gebeur. Dat kophou en byhou nou nie meer opsies is nie – ons moet verander of ons raak net verder agter of verlore.
Soms moet ons ’n doelbewuste besluit neem so in die stilligheid van met onsself praat, dat ons vanjaar die bul by die horings sal pak, ’n paar nuwe oorlewingstoertjies sal aanleer en sal inskryf by die “Leerskool” van die lewe. Woorde kan dade, emosies en die uitvoer en deurvoer daarvan ’n totaal ander geur, kleur en smaak gee.
Kan ons dit werklik bekostig om nie altyd gereed te wees om iets te leer nie?