Editorial March

Die vertelling van ʼn mede-yogi die afgelope Valentyns-Vrydag van haar negejarige kleinkind wat met sy eerste Valentynsbrief borrelend en blosend in haar rooi motortjie klim, gee aanleiding tot my reis na gister…

Ek onthou ʼn tyd toe ek as student gewoonlik op Sondag, laatmiddag briewe aan my ouers geskryf het. Verslag is gedoen van hoe die studies daar uitsien, komiese gebeure, versoeke om beskuitvoorraad, ‘n pleidooi dat die sakgeld lankal opgedroog het en selfs die seël vir die brief uit die spaarbussie geskud moes word. Dit was makliker om emosies van waardering, vrese, woede en vreugdes op papier te verwoord. Hierdie brief is gewoonlik in die voorportaal van die koshuis in die briewebus gegooi. Daar was nooit twyfel of die skrywe by sy bestemming sou uitkom nie.

Tydens ʼn naweekbesoek ná Universiteit aan my ouerhuis, is daar ‘n pragtige houer op my bed. By nadere ondersoek sien ek my briewe noukeurig georden vanaf my eerste tot en met wanneer dit uit die mode geraak het om briewe te skryf.

Koeverte in al die kleure van die reënboog, geparste blomme in sommige briewe, studente foto’s, ‘n sakdoekie met parfuumvlekke maak alles deel uit van die skatkis.

Ek weeg gewigtig op of ek daardeur sal lees …

Hedendaags kom briewekommunikasie heeltemal anders oor die lessenaar. ʼn Paar van die tussen-in skakels is iets wat nou aan ʼn verlede behoort. Vanoggend kry ek weer ʼn brief waarvan die woorde sorgvuldig ingekleur is, woorde wat spreek van tyd wat afgestaan is om te gesels.  ʼn Vertelling wat my neem op ʼn saamreis na ʼn wêreld van innige gevoel, reuke, prente en gewaarwordings.

Soos Moeder, bêre ek hierdie brief sorgvuldig soos ʼn kosbare kleinood, nie in ʼn pragtige boks nie, maar onder my persoonlike lêer op my rekenaar. Ek weet ek sal teruggaan na hierdie brief en weer lees, want nie alleen is dit tydloos nie, dis waardevol en bring vervulling van sintuie en emosies. Dit is nou deel van my leefwêreld, van my menswees.

Miskien het dit tyd geword, dat ons weer woorde laat dans op papier, al skryf jy net vir jouself, aan jouself.