Editorial Mei
Ek wil glo dat daar in elke huishouding ʼn item of items is wat erfstukke kan wees, miskien met geld wat eenkant gesit is, oor tyd aangekoop is òf ʼn geskenk was. Hierdie buitengewone uitsoekstukke gaan soms gepaard met ʼn stukkie geskiedenis of vertelling.
Die groot lomp groen hout uitskopbank op die voorstoep van my houthuis is my verhaal vandag. Lank voor die groen bank sy weg gevind het na my woning, het dit behoort aan ʼn mentor en later vriendin van my. Voorheen het die bank uitgekyk op die rivierloop van die Kleinbrakrivier. Gedurende hierdie tydperk het my relasie met die bank reeds begin. Die diep voue en kreukels in die stoffeermateriaal getuig van stories wat oorgedra is, oorslaap onder die sterrehemel, uitbundig lag en indringende gesprekke.
Op ʼn goeie dag het tyd en ouderdom my vriendin ingehaal en toe daar afgeskaal moes word, het die bank sy weg gevind na my woning as geskenk. Skelm middag insluimer slapies het hoogty gevier, nuwe stories is vertel deur besoekers en gaste wat so al met die son se skuif saam aangeskuif het. Vinnig het die jongelinge die waarde van die bank ingesien wanneer daar in die laataand gekuier word op die stoep. Die bank het die bloei tydperk beleef van ʼn Moeder se tagtigste Desember-vakansie verjaarsdagviering met kerse en sjampanje. Daar was die getuig van ʼn eerste liefde se afsê en gevoel van verlatenheid, oggendkoffie en beskuit eet terwyl almal in die straat vriendelik groet en wuif. Hierdie bank hou ʼn veilige vertroosting in vir diesulkes wat al daarop gesit het vir vertroosting, boetedoening of bemiddeling. Die groen materiaal het al plek-plek dof begin word, niks wat gooikussings nie kan verberg nie. Van veel meer waarde is die wete dat die bank oor magiese sagte voue beskik waar geheime nie uitgelap word nie, traandruppels sagte karaktervolle merkies laat en die siel en liggaam een word.
Hierdie bank is een van my kosbare geskenke wat eendag ʼn nuwe woning sal vind, met die stukkie geskiedenis wat saam sal trek en met nuwe medelings sinvolheid sal bring aan ʼn ander.