…EN SO IS ONS PENS EN POOTJIES IN 2025!

Seesand uit matte klop, kussings oppof, vriende na Desember se familietyd opsoek… hiervoor was daar nog
nie veel tyd nie. Wat nog van behoeftes en prioriteite probeer identifiseer!

Die guru’s beveel aan: haal diep asem, vat een tree op ‘n slag, een taak per dag en so bou jy ritme en
momentum op…

Opnuut weer dankbaar vir die wysheid en insig wat gepaard gaan met elke nuwe lewensjaar, werk mens aan
die kuns om fisiese, geestelike, emosionele en spirituele welstand in jouself te vind. Dis een van my belangrikste
prioriteite met die aanvang van die jaar. Mettertyd het mens geleer dat dit daaroor gaan om verantwoordelikheid te neem vir jou eie gesondheid en geluksaligheid. Daardeur word verseker dat jou behoeftes
op ‘n gebalanseerde en gesonde manier geïdentifiseer en nagekom word.

Die essensie lê daarin dat jy tyd maak vir jouself en jou persoonlike voorkeure aanspreek.
Buiten die daaglikse strewe na gesonde eetgewoontes, genoeg slaap, sosiale deelname en interaksie, is die
moeiliker stappe díe van grense stel, soms nee te sê en hulp van familie, vriende en professionele kundiges te vra
en te ontvang, wanneer dit nodig word.

Uiteindelik gaan selfsorg (self-care) oor die besef dat jy verdien om goed te wees vir jouself en goed-wees vir
jouself ‘n prioriteit in jou lewe maak.

Raak stil, luister na jouself en besluit wat moet verander in 2025 om jóú behoeftes aan te spreek. Slegs dan is jy
voluit gereed om vir ander s’n daar te wees.