GEEN WYN VIR ’N WEEK NIE
My pa het altyd gesê ’n mens praat nie oor politiek en godsdiens nie, maar hier gaan ons …
Mitologie en religie bestaan al van die begin van tye af. Dit is ’n manier om die begin van die mensdom, die plek wat die mens in die heelal beset, wat belangrik is, en hoekom dinge is soos dit is, te verklaar. Vandag vra ons steeds hierdie vrae, alhoewel die antwoorde verskillend mag wees.
Met die hulp van navorsers, historici, wetenskaplikes en vertalers beskik ons oor ’n redelike kennis van antieke religieuse geskiedenis, gebruike en die rol wat dit in die alledaagse lewe gespeel het. Religie het die manier waarop individue binne ’n samelewing funksioneer, die manier hoe gemeenskappe hulself in verhouding plaas tot die goddelike en ook die rol van leiers en priesters gevorm.
Alle gemeenskapslede van antieke beskawings was Politeïste, met ander woorde baie gode is aanbid. Hulle het geglo dat al die verskillende gode ’n impak op elke aspek van hulle lewe gehad het. Die doel van die lewe was om in harmonie met hierdie gode te leef. Die gemeenskaplike temas van mitologie en religie het basies oor die dualisme van dood (die onderwêreld) en lewensiklus, asook die oorsprong van die mens, gehandel.
So byvoorbeeld het gode in antieke Mesopotamië nie net elkeen ’n spesifieke doel gehad nie, maar elke dorp/stad het ook sy eie spesiale god gehad wat oor almal wag gehou het. In antieke middel-Amerika (Mesoamerika) was daar gode vir reën, water, fertiliteit, storms en berge. Soortgelyk het opgrawings in die Indusriviervallei se stede die “Moeder”-figuur opgelewer wat volgens hul geloof gesondheid en fertiliteit aan mense, plante en diere moes gee.
Ook in antieke China is geglo dat hemelliggame, gebeurtenisse in die natuur, berge en riviere, asook gestorwe voorgangers, die mag het om menslike lewe te beïnvloed.
Antieke Egipte se religieë het meer as 3 000 jaar gehou. Daar is ook geglo dat die gode meestal in die natuur is en dat hulle dus ook die mag van die natuur beheer. Die formele religieuse praktyk het egter rondom die Faro gedraai. Die Faro was as goddelik beskou wat as tussenganger tussen die gode en die mense gedien het. Sy rol was om die gode op so ’n manier te bestuur dat hulle orde in die heelal kon verseker.
Antieke beskawings het geglo dat hulle geskep is as samewerkers van die gode om die chaotiese magte weg te hou en om alles in die gemeenskap glad te laat verloop. Wetgewing was op religieuse praktyke gebaseer en ineengeweef met politiek en daar was geen onderskeiding soos wat daar vandag is nie.
Ek lees onlangs dat die historikus Anna Böeseken (1905-1997) meld dat gedurende Van Riebeeck se tyd as Kommandeur van die Vereenigde Oostindische Compagnie hier aan die suidpunt van Afrika, daar reeds in Oktober 1652 bepaal is dat enigeen wat hom “uit de Zondagsche Vergadering absenteer” (Skriflesing, gebed en gesang), vir ’n week lank geen wynrantsoen sou ontvang nie. Dit het my laat wonder watter straf daar in antieke tye sou kon wees vir soortgelyke of selfs erger “misdade” …
De Groot, J.J.M. 1972. The Religious System of China: Its Ancient Forms, Evolution, History and Present Aspect, Manners, Customs and Social Institutions Connected Therewith. Leiden: E. J. Brill; Miller, D. 1985. Ideology and the Harrapan Civilization. Journal of Anthropological Archaeology 4: 34-71; World History Encyclopaedia