Mosaïek by Die Poort: ‘n Gemeenskapsprojek

Dit was soos altyd vroeg in die oggend, voor die son nog behoorlik oor die horison gekom het. Die wit skuim van die golwe het vrolik oor die bekende rotse gebreek, en Die Poort was lewendig met geselskap. ‘n Groep van sowat 15 vroegoggend-swemmers het mekaar se stories oor kinders,
vakansieplanne en meer gedeel, sommige reeds onder groot handdoeke gesellig op die wal.

Op hierdie spesifieke oggend is die idee gebore. “Kom ons begin iets om Die Poort te verfraai,” stel een van die kreatiewe swemmers voor, terwyl hulle deur die tonnel na die parkeer-area stap.

Teen April 2023 het die eerste mosaïekprojek, geïnspireer deur die see, aan die gang gekom. Enigiemand, selfs dié sonder ervaring, was welkom om te help: van die knip van teëltjies tot die aanbring en afwerking van die kunswerke. Die eerste mosaïek, wat die oseaan uitbeeld, het spoedig gevolg.

Ongelukkig het die see in September dieselfde jaar woes deur die tonnel gespoel en die eerste mosaïek van die muur weggevee. Maar die groep het hul geesdrif behou. Met die hulp van ‘n plaaslike besigheidsman is ses pragtige mosaïektonele voltooi, insluitend ‘n toneel wat Alex, Die Poort se inwonende papegaai, uitbeeld.

Elke toneel, gemiddeld 7,5 m² groot, is nou ‘n kleurvolle ba-ken. In totaal is 112 500 teëltjies – elk net 4 cm² elk – gebruik om die 45m² mosaïekoppervlakte te skep. Die vrywilligers het met trots en toewyding elke vierkante sentimeter lewendig gemaak.

As jy tydens jou vakansie Die Poort in Mosselbaai besoek, mag jy dalk gelukkig wees om een van die vroegoggend-swemmers te sien werk aan die instandhouding van die bestaande tonele, of dalk selfs aan die volgende groot projek. Hierdie mosaïekskilderye vertel ‘n storie van kreatiwiteit, samewerking en die onvermoeide gees van ‘n gemeenskap wat trots is op hul unieke deel van die kus.