STORIES EN MUSIEK VIR DIE JONGSPAN
So dikwels praat ouer mense van ons kinders en jongmense as die toekoms. Nee! Hulle is hier, by ons en deel van ons hede. Lewende boodskappe wat ons die toekoms in stuur na ‘n tyd wat ons self nie sal sien nie. Blanko bladsye waarop ons almal die voorreg en verantwoordelikheid het om ‘n meesterstuk te skep.
Hulle geesdrif en entoesiasme is die sleutel vir ‘n gemeenskap vol hoop, ‘n tuiste waar ons almal kan skaterlag en waar die mooi altyd sal seëvier.
Hierdie jaar wil die Muse daardie saadjie kom saai en daarom is dit ‘n hartswens dat ons kinders tydens die Musefees die boeke-uur by die biblioteek en die musiek-uur by die Youth Café sal kom bywoon.
“Boeke is ’n tuin, ’n boord met vrugtebome, ’n pakhuis vol skatte, ’n fees van vreugde, geselskap vir die gees, ’n raadgewer, nee ’n hele paneel beraders.”
Henry Ward Beecher
Musiek maak ‘n mens se werklas ligter en hartseer draagliker. Dit breek deur die grensdrade tussen mense, dit wek patriotisme, inspireer, en leer ons lag en dans!
Kom ons rus ons kinders toe met hierdie instrumente, sodat die wêreld vir hulle oopgebreek word met boeke en ‘n lied in die hart.
Vir meer inligting, besoek www.musefees.co.za.