TE GOED OM WAAR TE WEES?
Ai, die soeke na rykdom! Ons dans op “Money Money Money” van Abba, verdrink in die kasregisterklanke van Pink Floyd se “Money” en sit en kyk na wat Clint Eastwood sal aanvang vir “A Few Dollars more”!
Bekende rykes verklap hulle persoonlike geldmaakgeheime op sosiale media, en ons wil dit só graag glo, dat ons die kans vat. Ons weet nie wat “Cryptocurrency” beteken nie, hoor ons kan geld maak daarmee, en voer die gesiglose, siellose internet met al ons bank inligting.
‘n Ponzi-skema is ‘n bedrogspul waar beloftes van hoë opbrengste aan beleggers gemaak word met die geld wat van nuwe beleggers gewerf word. Die skema stort gewoonlik in duie wanneer daar nie genoeg nuwe beleggers is om die uitbetalings te handhaaf nie.
Die Ponzi-skema het reeds sy ontstaan in 1920 toe Charles Ponzi se maatskappy Europeërs bedrieglik oortuig het om geld te belê in die aankoop van posseëls uit die VSA. Honderd-vier-en-twintig jaar later word Ponzi se skema steeds ingespan, elke keer meer slinks.
Ponzi-skemas is onwettig. Dit bedrieg die publiek om geld te belê in ’n geleentheid wat nie bestaan nie. Die basis daarvan is bedrog. Ponzi- skelms verstaan die bankwese, bemarking, vervalsing en lyk onskuldiger as jou vroomste maatjie.
Bernie Madoff was ’n gerespekteerde makelaar op New York se Aandelemark. Hy het ’n Ponzi-skema bedryf tot in 2009. Selfs die superrykes van Wall Street het daarin belê. Toe die sonskyn in ’n supernova ontplof, was 13 000 beleggers $74 biljoen kwyt. Bernie is tot 150 jaar tronkstraf gevonnis en is in 2021 in die gevangenis oorlede.
Die Texas predikant William Gallagher, het toegewyde Christene afgeraai teen beleggings by korrupte banke. Hy het hulle oorreed om weens geloofsredes eerder by hom te belê. Weereens is die beleggings gewaarborg met geen risiko nie, maar met fantastiese dividende. Toe die sluier van sy Ponzi-skema gelig word, het $38 miljoen uit gelowige beleggers se sakke verdwyn.
Daar is net een stukkie goeie raad teen ’n Ponzi-skema: As dinge te goed lyk om waar te wees, is dit nie waar nie. Doen jou huiswerk deeglik as jy daaraan dink om te belê. Gaan alles na. Wie is die individue agter die skema? Is hulle geregistreer by FSCA? As jy agterkom jou dividende raak minder, stop jou betalings onmiddellik. Die skema sal jou probeer oortuig om byvoorbeeld meer geld te belê. Moenie toegee nie. Rapporteer die saak onmiddellik aan die SAPD se Handelseenheid.
Onthou: Lae risiko + hoë dividend = Te Goed Om Waar te Wees.