TOYOTA STELLENBOSCH WOORDFEES, 3 – 11 Oktober 2026
Die program vir die 2026 Toyota Stellenbosch Woordfees is nou bekend en is aanlyn beskikbaar op die fees se webwerf by woordfees.co.za. Kaartjieverkope open 18 Junie vir die publiek. “Met 15 weke om te beplan is dit nou die tyd om ’n feesgids nader te trek en te beplan aan ’n unieke feeservaring. Daar is iets vir almal, met uitstaande werk van ons voorste kunstenaars,” sê Saartjie Botha, direkteur van die Toyota Stellenbosch Woordfees.
Die fees vind oor nege dae dié lente plaas en vanjaar se feestema is “Hoog Tyd”. En met meer as 400 uiteenlopende programitems is daar ’n rede vir almal om Stellenbosch toe te kom. Kom span uit met jou kampstoel by die Toyota Musiekfees-opelugkonserte by die Jan Marais-natuurreservaat. Jeremy Loops, Booshle G., Zaan Sonnekus en Tasché en Spoegwolf bring die klanke.
Bring jou instrument na die Jazz at the Konserve-reeks om ná elke vertoning saam met die kunstenaars te jam. Die Toyota Stellenbosch Woordfees en Strauss & Co. se kunsveiling vind vanjaar in die Stadsaal plaas, waar die kollig val op artistieke uitnemendheid en erkenning van kontemporêre style.
Daar is nege debute op die Spier Toneel-program. Hieronder tel My kind druip (Shimmy Isaacs), Skanse (Dawid Minnaar), Vlindervry (Cindy Swanepoel), ’n Middel (Tinarie van Wyk Loots), die wenstuk van die 2026 Reinet Nagtegaal-teksprys, Grootmeisie (Daneel van der Walt), Krapp se laaste band (Carel Nel), I Lord Hamlet (Carlo Daniels), Wie call die shots? (Miché van Wyk) en Elke briljante ding (Albert Pretorius).
Die woord sit nie verniet heel voor in die Toyota Stellenbosch Woordfees se naam nie: Boeke en skrywers bly die hartklop van die fees. Vanjaar is daar meer as 50 aanbiedings op die EasyEquities Skrywersfees. Lesers, denkers en boekmense kan uitsien na boeke oor alles van rugby tot resensies, geld en geskiedenis, huwelike, honde, en hoe om ’n lewe te maak op ’n leë stuk grond in die Karoo.
Op die Leefstylprogram is daar ’n behoorlike smorgasbord van smake en ervarings: 13 demonstrasies uit blinknuwe kookboeke, met jou gunsteling- TV-kosmense, sosiale media-sterre en kosskrywers op die verhoog in die Hofmeyrsaal se demo-kombuis. Die Spier Toneel-program bied ook ’n goeie skeut humor met komediante soos Marion Holm, Marc Lottering, Marianne Thamm, Schalk Bezuidenhout en Nik Rabinowitz.
Ensembles soos Darkroom Contemporary, Reach for the Stars, SboNdaba Dance, Jazzart Dance Theatre, Figure of 8 Dance Theatre, Stellenbosch Balletvereniging en Garage-dansensemble vertaal die ekspressiewe taal van dans. Jaco van der Merwe het nog ’n blink én bekostigbare filmfees saamgestel met 17 speelfims en nege kortfilms, wat insluit die 2026 kykNET Silwerskermfees-program, Nico Scheepers se riller Hen, ’n reeks “poëtiese” dokumentêre wat hy beskryf as “dokufiksie”, horror-gore, Hip Hop en meer. Die meeste van die flieks op die filmfees is gratis, terwyl die speelfims billik geprys is teen R60 en R70.
Laat die reuk van springmielies jou innooi by die Road House Cinema in die Neelsie en kom kyk waarom daar steeds ’n behoefte is om flieks op die grootskerm te sien. Toyota Stellenbosch Woordfees, 3 tot 11 Oktober. Kaartjies by Quicket.




