14 C
Mossel Bay
28th May 2023
BirdingCommunity & LivingCrafts and hobbiesNature & NurturePhotographyTourism & Travel

VOËLKYK TUSSEN DIE GROOTVOETE

Ek begin hiermee ’n reeks artikels van ’n paar puik voëlkykplekke wat net te ver van die Tuinroete is vir ’n gemaklike dag-uitstappie, maar tog naby genoeg vir ’n naweek se wegbreek. Die Addo Olifant Nasionale Park is een van hierdie plekke. Dit is sekerlik een van die mees biodiverse parke in Afrika. Die Park het in 1931 begin met ongeveer 2 000 hektaar en vandag strek dit oor amper 300 000 hektaar, die derde grootste nasionale park in Suid-Afrika.

Addo se biodiversiteit kan toegeskryf word aan die sewe verskillende biome wat in dié park bymekaarkom, namens Oerwoud, Ruigtebos, Fynbos, Grasveld, Karooveld, Bosveld en die See. Hierdie biodiversiteit is ook sigbaar in Addo se voëllewe, want hierdie park is tans die tuiste van ver meer as 400 voëlsoorte. Dit sluit gesogte voëlsoorte in soos die Sekretarisvoël, Kroonarend, Dwergarend, Veldpou, Knysnaloerie, Bosloerie, Europese Troupant, Knysnaspeg, Witkoljanfrederik en natuurlik die piepklein Kaapse Kapokvoël. Dan is daar ook voëlsoorte wat ’n mens nie sommer in die Wes-Kaap te siene gaan kry nie, soos die Groenvlekduifie, Gekroonde Neushoringvoël, Draaihals, Gewone Swartmees, Bruinwipstert, Witliesbosbontrokkie, Spookvoël, Kleinglansspreeu, Rooibekrenostervoël en die Geelvlekmossie.

Die meeste mense ken Addo vanweë die hoofruskamp, ’n lieflike groot, boomryke ruskamp met allerlei akkommodasie-opsies, ’n restaurant, uitkykpunt, twee skuilings (Underground Hide en Red Bishop Hide), ’n swembad en ’n kort wandelroete (PPC Discovery Trail). Die hoofruskamp is beslis ’n goeie basis vir ’n naweek in Addo; van daar af, kan ’n mens afry deur die park tot onder by die Sondagsriviermond, of jy kan opry tot bo-op die Suurberge en die Zuurberg-staproetes volg tot onder in die klowe waar oeroue woude welig groei.

Die meer avontuurlustiges kan ook die Kabouga-gedeelte van die park verken: gebruik Mvubu-kamp as ’n basis en ry die 4×4-roete oor die Suurberge tot by die Darlington-dam. Besoek dan die Noorsveld van Addo: ’n habitat ryk aan grootwild en voëllewe. Of gaan bly heel aan die ander kant van die park in die Langebos-hutte waar jy in die kuswoude die Rooiblestinker en Boskraaie bo uit die reusewildevyebome kan hoor roep. Addo op sy beste!

Related posts

HOMMELTUIG-HENGEL (DRONE FISHING) IN DIE TUINROETE

Wouter Van Zyl

GET YOUR KIDS CREATING!

Andrea van Eeden

Join us at this year’s Fragrance Fest

Nelma Ruschioni

Green Belt Fights Back

Matthew Thorpe

AFRIFORUM BUURTWAG

Johan Scheepers

NUWE WETSONTWERP OP EIENDOMSPRAKTISYNS EN VERPLIGTE GETROUHEIDSFONDSSERTIFIKAAT

Lorandi Van der Merwe