My broer kuier hier vanuit ’n ander land. Ons verken die omgewing, rits rond, soek na Afrika-vitamiene vir sy expat-tekorte. Ons gaan op ’n “game drive”. ’n Wildsrit. ’n Wildrit. Dit blyk toe ’n Wilde Rit te wees.

Die gids is spitsvondig. “Welcome to your African massage,” sê hy. “Deep tissue!” Ons lag. Die Italiaanse vrou langs my is nie seker wat die grap is nie. Tydens die trippie sou sy gereeld “Mama mia!” uitroep. Want ons trap vás teen daardie reling van die voertuig. Oor berge en dale, voel dit, ons kuite span, ons longe en niere skud – hierdie roete is ’n opregte 4×4. Heerlik! Mama mia! Al ons spiere gaan seer wees.

Drie kameelperde afgeëts teen die lug, by ’n boom bo teen die koppie, is die Italianer se hoogtepunt van die dag. Haar gesig straal so van vreugde dat ek ook met verwondering na hulle kyk, asof vir die eerste keer. Ons leer dat ’n kameelperd besonder kwesbaar is wanneer hy water drink, onder andere vanweë daardie lieflike nek.

Nuwe inligting, nuwe woorde – selfs die twee Suid-Afrikaners leer by die goed opgeleide gids. Wie het vuur gemaak as daar ’n skip in die hawe is? Wat beteken die woord Outeniqua? Bekende feite kry ook weer lewe, sommer omdat die son helder skyn en die lug vars is. Hoe sorg die natuur vir balans, hoe hulpeloos is ’n leeu se welpie, hoe veerkragtig ’n sebra se vul?

My broer, die veldwagter en wildreservaatliefhebber, biltongmaker en fotograaf, is op die vliegtuig weg met ’n oseaanwye glimlag en ’n bosbaadjie. Dit maak nie saak hoeveel olifante en leeus jy al in jou lewe gesien het nie, ’n uitstappie veld toe is diep essensieel. Dit is ’n massering vir die seer spiere van ’n gejaagde gemoed, streling vir ’n gekneusde siel. Dis ’n helende “deep tissue”-behandeling vir jou besoekende broer se buitelandse hart.