Bekende Digter by Leeskring

Op Woensdag 14 Augustus het die digteres René Bohnen met die Groot Brakrivier Leeskring oor haar digkuns kom gesels.  Hierdie verrykende woord-oggend het oudergewoonte by Art@39 Long kunsgalery plaasgevind.  Dr Gerrit Theron het  René aan die gehoor voorgestel en as gespreksleier opgetree.

René, ‘n gebore Nataller, het  vir etlike jare in Johannesburg gewoon en het haar  onlangs in Mosselbaai gevestig.  Sy het ‘n Honneursgraad in Engels aan die Universiteit van die Vrystaat en  haar M.A. in Kreatiewe  Skryfwerk by Tukkies verwerf.

Sy het reeds drie digbundels die lig laat sien.  In 2000 debuteer  sy met die bundel “Spoorsny”.   Daarna verloop  elf jaar voor die publikasie van haar tweede bundel “In die niks alom”.  In die gesprek met haar het Gerrit hoofsaaklik  op haar jongste bundel “Op die vingerpunte van die heelal” wat in 2017 verskyn het, gefokus.  Die poësie in hierdie bundel gaan veral oor verhoudings en patrone.

Benewens die feit dat haar digwerk wye erkenning geniet en toekennings verwerf het, werk sy ook as vryskutfotograaf, skrywer, teksversorger en vertaler.  Van haar gedigte, artikels en fotografiese werk is reeds gepubliseer in tydskrifte en bloemlesings, soos Versindaba, LitNet, Groot Verseboek, The Sol Plaatje Anthology 2016 en Die heel mooiste Afrikaanse liefdesgedigte.  Verskeie van haar gedigte is ook in Nederlands vertaal.

Tydens die oggend het René ook ‘n paar van haar gunsteling gedigte  voorgelees. ‘n Hoogtepunt was toe sy een van haar gedigte, “Walvisnota”, wat getoonset is en deur ‘n koor met orkesbegeleiding gesing word, aan die gehoor voorgespeel het.

René was  baie beïndruk met die oggend en kon  die  entoesiasme van haar waarderende gehoor duidelik aanvoel.  Aan haar vriende op sosiale media het sy laat weet : “Daai plek het vol gesit.  Hierdie mense kook.”