DIGTER LOODS BOEK SE TWEEDE DRUK OP GROOT-BRAK
Sedert die bekendstelling van deel vanaand my boom deur tomas van Klein-Brak op Internasionale Vigsdag op 1 Desember 2022 is die eerste oplaag van honderd getekende en genommerde boeke opgeraap.
Van die terugvoer op die bundel is hartroerend: Vir Irene Hartzenberg van Wolwedans het die bundel haar ’n heeltemal nuwe uitkyk op die lewe gegee: “Die boekie het my hart raakgevat. Daar is so baie indrukke wat die boek by my laat dat ek nie anders kan as om dit oor en oor te lees nie!”
Hierdie bundel verhalende gedigte speel af tussen April en Oktober 2004. Dit bied ’n outobiografiese blik op die impak wat vigs op die digter se lewe gehad het. Skreiend eerlik deel tomas van Klein-Brak sy belewing en verwerking van ondenkbare verlies tydens en ná die ontydige vigsverwante afsterwe van sy sielsgenoot op 25 April 2004.
Die hoë golf waarop hulle saam gery het, asook die sukses van hulle gesamentlike besigheid, het nie net oornag in duie gestort nie, maar die digter gebruik pragtige Afrikaans om te verduidelik hoe hy ingetrek is in ’n maalkolk van rou, ’n bodemlose put waar geen lus en lig vir lewe meer kon inkom nie.
“Hierdie pyn het my later in ’n doodspenarie laat beland,” vertel tomas. “Ek vertrou dat my belewenis ’n vaste wete onder mense sal vestig dat geen situasie onoorbrugbaar is nie.”
Die digbundel word op Saterdag, 18 Februarie om 18:00 vir 18:30 op Groot-Brak by Art@39Long geloods. Belangstellendes word hartlik uitgenooi vir ’n skemerkelkie en ’n vingerhappie.
Links van Thomas Campher staan sy swaer, Walter Robertson. Regs van hom is die agbare burgemeester, Dirk Kotzé, sy vrou, Riëtte, raadslid Anton Dellemijn en sy vrou, Annemarie.
Foto geneem op 1 Desember tydens die bekendstelling van deel vanaand my boom