VAN NUUSKIERIGHEID IS DIE ALBUMS VOL

, ,

My ouers, oom en tannie het ons land oor die jare deurkruis. Hulle het ’n menigte plekke besoek, interessante goed beleef en wonderlike mense ontmoet. Ek kan my verluister aan hul vertellinge van plekke en unieke belewenisse wat hul op hul reise ervaar het. Na elkeen van hierdie reise wat van ’n week tot ses kon duur (veral nadat net die twee susters oorgebly het), is daar weer weke bestee om ’n album van die reis aanmekaar te sit waarin foto’s, fakture, brosjures en gedetaileerde byskrifte en opmerkings, uiteengesit is. Dorpe wat hul besoek het, gastehuise waarin hul geslaap het, padstalletjies, museums en monumente wat hul besoek het, kos wat hul geëet het en mense wat hul ontmoet het, is noukeurig genotuleer en in ’n omslagtige album vervat. Hierin sien jy die bewyse wat hul wonderlike stories staaf; bladsye en bladsye foto’s van, volgens hulle, die beste appeltert wat hul nóg geëet het, by ‘n teetuin in Swellendam; ’n drie-gang maaltyd by ’n piepklein hotelletjie in die Suid-Kaap vir onder R100! (want hulle is pensioenarisse); ’n hulpvaardige boer en werkers wat gehelp het toe daar ’n pap wiel was – tot van ’n limousine wat hul kom optel het nadat hul die kurator van ’n welbekende museum op ’n basaar in Kaapstad raakgekuier het en hul op ’n private, begeleide toer getrakteer is!

Daar is min grondpaaie of bergpasse wat hul nie gery, afdraaipaadjies wat hul nie geneem, of dorpies wat hulle nie besoek het nie. Hulle het nie net die groot en mees algemene besienswaardighede nagejaag nie, maar hul juis verlustig in die alledaagse manier van lewe op elke plekkie. Vir hierdie tipe belewenisse moet jy nie haastig wees om van punt A tot punt B te vorder nie. Jy moet bereid wees om ’n stadiger, moontlik langer roete te volg en nie te veel op jou horlosie te wil kyk nie. ’n Klomp skoonheid en rykdom lê ’n afdraai weg van die vinnige pad, maar gaan verlore vir diegene wat die bestemming as die begin van hul avontuur sien.

Waar ons nog aan die begin van ’n nuwe jaar staan, wil ek jou herinner dat vinniger nie noodwendig beter is nie. Daar lê nog hope paaie, plekkies en reisbelewenisse wat wag om ontdek en beleef te word. Miskien is hierdie die jaar waarin jý die “scenic route” neem, ’n dag langer neem om jou bestemming te bereik, en moontlik verras word met ryke ervaringe op beeldskone plekke, kan beleef hoe eenvoud en anders, uitsonderlik kan wees, en jy só inhoud vir die album van jou gedagtes bymekaarmaak.