Dis heerlike lente, die winter is verby
Dis vroegoggend. Al die woorde wat ek al padlangs teëgekom het, flits in my gedagtes verby: “Hoe ouer mens word, hoe minder die slaap.” Ek is nou nie seker oor die “ouer” nie, wat wel waar is, is dat my kleiner porsie slaap nog altyd genoeg was. Deur die jare het ek geleer om met koffie in die hand my arbeidslysie blymoedig aan te pak, sodat ek buite kan wees wanneer die donker en lig plekke ruil. Om die nuwe dag te omarm, in te teug en te kan getuig dat ek teenwoordig was.
Ten spyte van die sonnewyser se skuifelvoet wat aanbeweeg, was dit nodig dat ek tyd moet maak vir stilstaan. My “Getsemane”-tuin roep. In die omspit van die kleigrond en met geen plan in gedagte nie, kom daar insig: daar is ʼn diepe hartseer in my. Ek voel ontwortel, ontsteld, vol vrae en geen antwoorde nie. Daar woel gesprekke in my kop, terugflitse van gebeure oor ʼn tydsbestek waarmee ek nie tred gehou het nie.
Ek is net mooi nêrens en orals tegelyk. Die tuin is te groot, die werk te veel en ek het verdwaal in my menswees. Die trane bring verligting en die sagte dialoog binne in my, vertroosting. ʼn Nuwe vrede. Om my en in my word dit stil. Tjoepstil. Liggaam en siel vind mekaar en daar is versoening.
Ek is dankbaar dat ek nog my mentor se woorde onthou: “And this moment too shall pass”. Onthou om tyd te maak om stil te staan ter wille van myself, want dit bring die heel beste weergawe van my menswees na vore.
Ralph Emerson sê: ”Selfbestuur is die hoogste vorm van elegansie.”
September is sinoniem met die lente wat op pad is. Daarvan getuig die kwekerye se kleurvolle plante, die oggendbries vol bloeiselgeure, die see se kleur wat verander, en voëls wat gemoedelik nuusbrokkies uitruil.
Dis heerlike lente, die winter is verby.
Is jy reg vir hierdie nuwe seisoen?