Ellen van Rensburg Biblioteek

Deel van die Musefees Gemeenskapsprojek vir 2024

Die Ellen van Rensburg Biblioteek is ‘n kosbare instelling in die hart van Groot Brakrivier, en speel ‘n belangrike rol in ons gemeenskap se opvoeding en kultuur.

 

Die naam van die biblioteek het egter ‘n hartseer agtergrond. Die leesgierige Ellen van Rensburg se gesin het oorkant die biblioteek gewoon. Sy en ‘n paar vriende wat op pad was om hulle matriekuitslae in George te gaan haal, was in ‘n  motorongeluk betrokke, en sy is oorlede. Haar ouers het die grond vir die biblioteek geskenk ter nagedagtenis aan haar.

 

Groot Brakrivier se biblioteek het van ‘n klein, een-vertrek boekehuis, gegroei tot een wat uit sy nate bars. Die huidige gebou is op 7 Maart 1986 geopen.

 

Die biblioteek dien die area vanaf Glentana tot Klein Brakrivier. Enige biblioteekgebruiker van die Mosselbaai munisipaliteit, kan by enige biblioteek van sy/haar keuse boeke uitneem. Die gratis interbiblioteekleningsdiens maak dit moontlik vir lede om boeke te bekom wat by ‘n ander Wes-Kaapse biblioteek beskikbaar is.

 

Heelparty vakansiegangers (wat eiendom in die omgewing het), besoek die biblioteek gedurende vakansietye.  Dit is altyd ‘n blye weersiens, soos ou vriende! Die biblioteek akkomodeer ook mense met gestremdhede.  Die groot uitdaging is egter om aan die uiteenlopende behoeftes van die gemeenskap te voldoen met begrotings wat al kleiner word.

 

Die biblioteek stel rekenaars beskikbaar wat deur die publiek gebruik kan word. As iemand byvoorbeeld ‘n CV moet saamstel, is daar ‘n assistant wat die persoon kan help. Die publiek word aangemoedig om van hierdie diens gebruik te maak.

 

‘n Nuwe toevoeging is die biblioteek se eie toepassing genaamd LIBBY. Dit is ‘n Digitale Biblioteek wat op jou foon, tablet, rekenaar installeer word.  Jy kan met LIBBY se hulp boeke kan lees of luisterboeke aflaai.

 

Die biblioteekpersoneel besoek gereeld speelskooltjies waar storie voorlesings gehou word. Skole in die omgewing bring gereeld besoek, en werkswinkels word ook aangebied. ‘n Voorbeeld van so ‘n werkswinkel is die Ethan Projek oor outisme vir die publiek, ouers, onderwysers en ander belanghebbendes.

 

Fourie Ackerman het die aansigmuur by die parkeerarea betower met een van sy kunswerke. Hierdie projek is moontlik gemaak deur Grootbrak Hardeware en die span van Smarten Renovate. Die Ellen van Rensburg Biblioteek is die hooffokus van die Musefees se gemeenskapsprojek vanjaar.