Kuier in Engeland

Daar is so baie van ons wat elke jaar die reis na Engeland aanpak. Hoekom? Omdat ons kinders en kleinkinders daar is. Baie jongmense het ongeveer 20 jaar gelede van die 2 jaar werksvisum na Engeland gebruik gemaak, hulle studieskuld binne ‘n kort tydjie terugbetaal en uitstekende poste daar losgeslaan. Later het hulle verlief geraak, getrou en hulle lewens in hierdie nuwe land gevestig.

 

Wanneer ons vir ons kinders gaan kuier, vind ons Engeland ‘n maklike land omdat ons die taal verstaan. Die uitstekende openbare vervoer is gerieflik en help ons om die stede en kleiner dorpe te verken. Al word Londen as baie duur beskou, help dit dat ons kinders hulle salaris in Britse pond ontvang. Daarom help hulle met liefde aan ons verblyf en uitgawes daar.

 

Daar is ‘n menigte lekkertes bo en behalwe die genot om by jou kinders te kuier. In Engeland is toegang tot al die museums gratis. Hoe lekker is dit nie om van die een interessante museum na die ander te stap, en as jy na ‘n rukkie nie meer lus is om daar rond te loop nie, kan jy net uitstap omdat dit jou niks gekos het nie. Die vryheid om vroeg soggens of saans na 8 vir ‘n wandeling in die omgewing te kan gaan is heerlik. Dis so veilig en lekker om na die tuine, parke of sommer net hulle mooi Tesla’s en ander karre te kyk.

 

Ons verstaan die hartseer as jy sien hoe jou kleinkinders in ‘n vreemde, Engelse land grootword, al is hulle ouers in hulle harte nog getrou aan Suid-Afrika en sy sportspanne. Die grootste hartseer is egter om te groet as jy weer op die vliegtuig moet klim terug huistoe. Dan wag jy maar met verlange na die volgende kuier.

 

Wanneer die kinders besig is en jou finansies dit toelaat, is daar heelwat kort, begeleide toere wat jy kan meemaak. Baie ouer mense wil nie alleen die ander dele van Engeland meer gaan verken nie, daarom is hierdie soort toere perfek. Engeland is so mooi en ‘n reis na Skotland is ‘n uitsonderlike ervaring, en die kus van Cornwall, Wallis en interessante stede soos Cambridge, Ely, York en Exeter is ‘n moet om te sien.