DRUPPELS VIR STILWORD EN STILSTAAN
Gedurende die saktyd van die tweede laaste uitgawe van The Post vir 2023 gaan die sluise van die hemel behoorlik oop in die kusdorpie, Groot-Brakrivier.
My oog vang die wasgoedlyn deur my kombuisvenster. Onwillekeurig begin ek glimlag, want vir ’n verandering is die wasgoedlyn, wat altyd sinoniem is met werk, ’n bekoorlike kunswerk. Vandag spreek elke druppel iets van die hemel wat genadewater uitstort. Die glinsterende druppels vertoon soos prismas wat reflekteer wanneer die sonstrale van tyd tot tyd daarop skyn.
Elke grashalm, blom, blaar, boom en vetplant is ontvanklik vir die welwillendheidsdruppels. Soos die natuur skoon gewas word, so kan die mens soms sielsinsig ervaar wanneer traandruppels gestort word. Trane is nie noodwendig verteenwoordigend van hartseer of verlies nie, maar kan ’n wonderlike uitvloeisel van pure dankbaarheid, verligting en vreugde wees.
Vandag bring hierdie druppels op my wasgoedlyn nie net vir my vreugde nie, maar ook groot dankbaarheid vir die voorreg van sintuie, vir stilword en stilstaan om in die oomblik geanker te bly.
Around us, life bursts with miracles, a glass of water, a ray of sunshine, a leaf, a caterpillar, a flower, laughter, raindrops.