EDITORIAL
Onlangs bevind ek my in die geselskap van mense wat hul misnoeë uitspreek oor die gevoel dat daar eenvoudig nie genoeg ure in die dag is nie. “Ek kry doodeenvoudig nie alles gedoen nie.”
Hierdie stelling maal in my gedagtes rond soos goeie rooiwyn op die tong. As daar een gelykmaker in die lewe is, is dit tyd. Almal van ons kry dit in gelyke maat, solank ons asemhaal.
Ons ken almal die ou gesegde: “As jy iets gedoen wil hê, gee dit vir iemand wat besig is.” Onwillekeurig wonder ek, as ons as individue die keuse gehad het oor hoeveel ure genoeg sou wees in ‘n dag, hoeveel sou ons kies?
En sou ons elke dag dieselfde hoeveelheid ure wou hê? Hoe sou so ‘n dag lyk, en sou die mensdom meer vervuld voel? Al hierdie vrae kom by my op. Sou ons dan meer tyd hê vir ons eie behoeftes, geliefdes, familie, vriende, en betrokkenheid by die gemeenskap?
Ek dink terug aan my gesprek met die jong man wat my pad gekruis het. “Tannie, ek máák tyd deur te beplan. Verder fokus ek net op dit wat werklik belangrik is in my lewe en wat sin daaraan gee.”
Die belangriker vraag is seker: “Hoe gaan jy om met die tyd tot jou beskikking?” Hoe deel en bestuur jy jou tyd sodat jou opbrengs voldoende en volhoubaar is vir jou behoeftes en die ure wat elke dag tot jou beskikking is?
Hoeveel tyd het jý nodig?