DIE LEKKERTE VAN LAASTE
Daar is min ander woorde in die Afrikaanse taal wat sy tentakels in soveel lewensterreine ingeslaan het as: LAASTE.
Alhoewel die direkte betekenis van die woord allerweë aanvaar word as heel agter, of op die einde, bevat hierdie woord soveel meer emosionele waarde en kan dit selfs eindelose plesier aandui. Afrikaans beskik oor soveel raaksê-gesegdes waar die woord “laaste” presies aandui wat gevoel en met moeite verwoord word.
Reeds van Graad 1 af weet ons dat om laaste in die klas te staan, gladnie ‘n goeie betekenis het nie. Wanneer jy na pouse van die speelgrond af in die klas terugkom, en jy is laaste, word daar dikwels spottenderwys gesê: ”Agteros kom ook in die kraal”. Baie van ons kan dalk ook die dag op die atlektiekbaan onthou toe die skare jou aangemoedig het om tog net die wedloop te voltooi, al was jy heel laaste oor die eindstreep.
Die interessantste terrein waar “laaste” ‘n belangrike rol speel, is in Wiskunde. Die studie van patrone waar getalle die patrone vorm, beslaan ‘n groot deel van hierdie vakgebied. ‘n Rekenkundige ry is ‘n getalpatroon wat uit ‘n aantal opeenvolgende getalle bestaan. Elke lid van die ry word ‘n term genoem. Die verskil tussen twee opeenvolgende terme bly konstant. Elke daaropvolgende term word dus geskep deur dieselfde getal by sy voorganger te tel. Om die som van die ry te bepaal, word bloot die eerste en laaste term in die ry saam met die hoeveelheid terme in die ry benodig. Met hierdie drie stukkies inligting en die relevante formule, kan die totaal van al die terme, wat soms heelwat is, maklik bepaal word sonder om term na term met ‘n sakrekenaar bymekaar te tel.
In Skeepvaart en selfs net wanneer mens wil visvang of in die see wil swem, word die stand van die maan bestudeer. Die maan se stand ten opsigte van die aarde kan in vier hoof fases verdeel word. Elke volledige siklus van die vier fases duur gemiddeld 29.53 dae. Die laaste fase, of laaste kwartier van die maan, vind plaas net voor die maan “donker” word. Die beskikbare literatuur stem geensins saam oor watter fase van die maan die beste tyd sou wees om vis te vang nie. Waaroor daar wel eenstemmigheid is, is dat die laaste kwartier van die maan, die sekelmaan, moontlik ‘n aanduiding van onheil en intense emosie kan wees. Hierdie gedagte word ook ruim in poësie en prosa ontgin. ‘n Uitstekende voorbeeld hiervan is die 1937 roman van Hettie Smit, “Sy kom met die sekelmaan”.
Daar is egter een lewensterrein waar hierdie eenvoudige woord die rykdom van ons hele kultuur kleurryk omvat. Die vermoë om die genot van iets tot op die laaste te geniet, word dikwels met die volgende gesegde uitgedruk. Die inherente betekenis van die woord, sowel as intense genot en emosionele waarde van “laaste”, word hiermee perfek verwoord.
“Hierdie was so lekker dat ons alles tot die laaste krummel geniet het”.