PRAKTIESE WENKE: HOE OM JOU KIND ‘N GOEIE LESER TE MAAK

Navorsing het getoon dat slegs 22% van Suid-Afrika se tienjariges kan verstaan wat hulle lees. Indien ‘n kind nie kan verstaan wat hy/sy lees nie, kan hy/sy nie akademiese sukses in die skool behaal nie, aangesien lees die weg tot alle leer is.

Elke vak op skool, selfs Wiskunde, vereis die kennis van klanke om woorde op ‘n bladsy te lees en woordeskat om betekenis daaraan te gee. Vaardige leerders gebruik baie strategieë om te verstaan wat hulle lees, en gevolglik ontwikkel hulle verskillende leesvaardighede. Jy as ouer kan jou kind help om hierdie strategieë en vaardighede te ontwikkel en te oefen.

Lees vir jou kind.  Dit is belangrik om vir babas en kleuters te lees, maar ook wanneer hulle reeds skoolgaan. Dit maak nie saak wat jy aan hulle voorlees nie. Dit kan dieselfde boek wees, ‘n koerantartikel of selfs ‘n strokiesprent. Kinders moet die beginsel van die gedrukte media verstaan, en besef dat die woorde wat ons praat en hoor, neergeskryf kan word. Kinders moet ook kan waarneem dat lees waardevol in hul huis is. Deur aan jou kind voor te lees ondersteun en bevorder jy hul vermoë om van lees te hou.

Lees aan hulle verskillende soorte stories sodat hulle blootgestel word aan verskillende genres, en kan bepaal van watter soorte stories hulle hou. Moedig die ontwikkeling van hul verbeelding aan, en laat hulle toe om hul eie stories aan jou te vertel – selfs al is dit lawwe stories – sodat hulle besef dat hul stories ook belangrik is.

Vra jou kind vrae oor wat jy voorgelees het, of selfs as hulle iets op TV gekyk het. Help hulle om kritiese denkers te raak, en te dink oor wat hulle gelees het. Vra vrae soos:

  • Wie was jou gunstelingkarakter?
  • Watter deel van die storie het jy die meeste geniet?
  • Wat het aan die begin gebeur?
  • Wat het aan die einde gebeur?

Daar is baie dinge wat jy kan doen om jou kind te help om ‘n vaardige leser te word. Die belangrikste ding is egter om die regte omgewing (atmosfeer), wat die waarde van lees beklemtoon, in die huis te skep. Wys aan hulle dat jy ook lees en dit geniet.

Op www.thepost.org.za gee ons vir jou ‘n paar skakels na gratis webbladsye met stories vir voorlees vir kinders.  Die skakel na die volledige artikel hierbo is ook beskikbaar.

Volledige artikel:

 

https://resourcehub.oxford.co.za/road-to-literacy/praktiewe-wenke-om-jou-leerders-kinders-te-help-om-met-begrip-te-lees-hoe-om-jou-kind-n-goeie-leser-te-maak/

Stories vir voorlees:

https://afrikaans.com/leerhulp/gratis-stories-vir-jong-kinders/

https://luistervinkstories.co.za/webjoernaal/die-geheime-van-voorlees