ERFKENNIS HELP OM VOLHOUBARE LANDBOU-NETWERKE IN DIE TUINROETE TE SKEP           

FOTO: Kloksgewys van links agter:  Michael Bothma, Esparton Phiri, Gerrie Dykstra, Thomas Campher en Ceilia Ferreira.

“Erfkennis moet gedeel word om mense oor alle gemeenskappe in staat te stel om hulle eie landbou-produkte te verbou en op die manier selfversorgend te word.  Die surplus van die plaaslike, en soms baie klein produsente, moet dan by markte en deli’s verkoop word om volhoubare landbou-netwerke te skep.”

Dit is die visie waarmee KleinBegin se vennote, Ceilia Ferreira, Gerrie Dykstra, Esparton Phiri, Michael Bothma en Thomas Campher, ’n entrepreneursprojek begin het om vars plaasprodukte direk van plase en kleinboere aan die publiek in die groter Mosselbaai area te koop aan te bied.

Omdat hulle die produsente aanmoedig om hulle produkte so organies en natuurlik moontlik te verbou, is die een uitstaande kenmerk die egte en ryk smaak en geur wat ontsluit word.

Ceilia is ’n voorstander dat kleinboere met die verwerking van oorskot vrugte en groente die geleentheid  skep om die verskeidenheid van hulle landbouprodukte te vermeerder.

“Gedroogde en ingelegde vrugte en groente kan as gesonde verversings, bestanddele vir gebak, ontbytgraan, of selfs speserye gebruik word. Dit stel die boer in staat om sy aanbod uit te brei en ’n nuwe mark te ontwikkel. Hierdie diversifikasie kan lei tot ’n stabiele inkomste en ’n veerkragtige plaaslike landbou-ekonomie.”

“Die langer raklewe maak dit ook moontlik om oorskot oesprodukte te bewaar en geleidelik te verkoop. Dit is ’n winsgewende manier om die oes se waarde te behou en nie ’n groot hoeveelheid produkte op een slag te moet verkoop nie.” Kortom, die verwerking van oorskot vrugte en groente is ’n slim strategie vir klein boere om waarde by te voeg, hul oes te bewaar, en ’n volhoubare onderneming te bou.”

Volgens Thomas Campherhet hulle die geleentheid identifiseer toe hulle met die verkoop van vars sampioene by die Droombos Plaasmark, net buite Tergniet, betrokke geraak het.  “Kliënte het dadelik nog meer vars en natuurlike produkte versoek.  Ons verskaf vars rou Jersey plaasmelk, eiers van vrylopende hoenders, seisoenale groente en vrugte, ’n reeks organiese speserye en ons eie kerrie-versnitte.”

Om klein- en  tuisboere te ondersteun, kyk Esparton Phiri veral na reekse saailinge wat KleinBegin aanbied. Die saailinge word seisoenaal verskaf en in die wintertyd
fokus hy op saailinge vir groente vir lekker soppe.   Daar is ook organiese saad wat beskikbaar gestel word.

Gerrie en Michael is dit eens dat dit soms moeilik is om die regte, natuurlik verboude produkte, vir die mark te vind.   KleinBegin verbou self soveel as moontlik waar daar gapings in die aanbod is.   Omdat hulle vars van die plaas direk aan die publiek verskaf word die produkte eers Vrydae en Saterdae-oggende geoes, wat veroorsaak dat veral reën ’n groot invloed op beskikbaarheid het.

Volg ons op Facebook en Instagram: #kleinbeginorganic