HAAL ASEM EN TEL TOT 10…
RONEL NAGEL
Woede is ‘n hoogs destruktiewe emosie, maar dit kan ook ‘n kragtige motiveerder wees, afhangend van hoe jy besluit om dit te gebruik. Wat belangrik is, is om bewus te word van dit wat aanleiding gee tot die emosie en wat die onderliggende oorsake is. As daar nie aandag aan geskenk word nie kan dit potensieel destruktiewe gevolge hê.
By die werksplek is ons dikwels versigtig om woede na vore te laat kom. Dit is ook dikwels makliker om opgekropte woede by die huis teen familie uit te haal as by die kantoor voor my kollegas.
As woede buite beheer raak word jou oordeelsvermoë en denke irrasioneel en destruktief. Jou verhoudings, gesondheid, werk en algemene lewenskwaliteit ly daaronder. Dit is dán wanneer jy maniere moet ondersoek om daardeur te werk. Een van hierdie manier is terapie.
Woede manifesteer dikwels as ‘n angs aanval: daar is ‘n toename van adrenalien, jou hartklop en asemhaling versnel, en dit skep dan ‘n wanpersepsie van die situasie. Koel af – letterlik deur jou gesig en nek nat te maak en ‘n glas koue water te drink. As dit moontlik is, neem ‘n koue stort of stap buitentoe. Loop letterlik ‘n draai om die “warm om die kraag” reaksie te kalmeer.
Waar gaan soek ek ondersteuning of hulp?
Meeste maatskappye het menslike hulpbronbestuurders- programme. Daar is ook narratiewe terapeute in jou omgewing wat toegerus is om jou by te staan en jou te help om die situasie of spanning te hanteer.