FOOITJIES SONDER KONTANT

Het jy ook agtergekom dat jy nie meer kontant het om fooitjies uit te deel aan al die mense wat jou deur die dag met klein dingetjies help nie? Wie dra deesdae nog kontant? Veral die karwagte kry swaar.

‘n Bekende joernalis skryf dat hy jare gelede vir ’n vriendin gesê het hy is nie lus om ’n “lapswaaier” te betaal nie, “want dis nie ’n ware diens nie. Ek kán parkeer, en het nie hulp nodig nie”. En toe sê sy: “Dis ook die mense naaste aan die broodlyn in Suid-Afrika wat kies om nié by misdaad betrokke te raak nie.” Dit het my perspektief heeltemal verander, al betaal ek gereeld die persoon wat my kar oppas.

Maar die probleem bly steeds:  Hoe betaal jy sonder kontant?

Die oplossing is Street Wallet, ’n stelsel wat deur die Kaapse entrepreneur Kosta Scholiadis ontwikkel is, en dit is al vir ’n paar jaar effektief. Die konsep is eenvoudig: die karwag kry ’n QR (quick response)-kode, óf op sy foon óf op ’n kaart. Motoriste kan hom dan betaal met Apple Pay, Samsung Pay, SnapScan, Zapper, of Scan to Pay.

Wat besonders is aan dié stelsel, is dat die karwag nie eens ’n bankrekening nodig het nie – banke gee vir hulle ’n digitale betaalbewys wat hulle vir kontant kan ruil. Maak seker om jou vriendelike karwag hiervan te vertel.

As ons almal net één persoon help om hierdie stelsel te gebruik, dink net hoeveel lewens kan ons aanraak!