HOE GEREELD VIER JY JOUSELF ?

Dit is belangrik om tyd in ruim vir jouself aan die begin van jou dag, want dit verhoog jou gevoel van selfwaarde en geloof in jouself. Dit help jou ook om met selfvertroue op te tree in jou daaglikse lewe en omgang met ander. Verder kan dit van die negatiewe gevoelens wat ons daagliks ondervind, verander. Om te verstaan hoe en wat jy voel, verbeter regtig die verhouding wat jy met jouself het.

Hoe jy jouself sien, het ook ’n invloed op hoe die wêreld jou sien en ervaar. As jy leer om jouself as belangrik genoeg te ag, sal  jou selfwaarde verbeter en dit maak jou sterker en meer optimisties oor jouself. Dit beïnvloed weer direk hoe jou dag sal  verloop en draai alle selfkritiek of selfhaat en ’n swak selfbeeld om.

Hoe doen ek dit?

Selfvertroue en die viering van wie jy is, begin elke dag as jy jou oë oopmaak en diep inasem – raak bewus daarvan dat jy ’n nuwe dag gegun word. Kyk in die spieël en groet die persoon wat na jou toe kyk – al is haar hare deurmekaar! Vier daardie persoon en sê vir haar dat jy bly is sy is deel van jou dag. Nooi haar uit om die dag saam met jou aan te pak. Daardie erkenning lei tot selfvertroue en optimisme al is dit ’n moeilike dag.

Jy verdien om gevier, gesien, gehoor en gewaardeer te word vir die persoon wie jy is – deur jouself en die ander mense in jou lewe. Begin elke dag deur intensioneel te leef en bewus te word van wat om jou aangaan. Soek na vyf dinge wat jy raaksien in jou omgang gedurende die dag. Maak aan die einde van die dag vir jou koffie of skink ’n glasie wyn en vind ’n stil plek. Bring dan die vyf dinge in die spasie in en sê dankie daarvoor. Dit kan negatiewe goed ook wees – indien wel, raak bewus van die invloed wat dit het op jou en laat dit gaan.

Soms is dit moeilik as jy ’n gesin het en werkend is, maar dan kan jy die tyd wat jy in die motor deurbring op pad werk toe hiervoor aanwend. Luister terwyl jy bestuur na inspirerende musiek, ’n boekvoorlesing of motivering wat jy vooraf kan aflaai. Dis maar een van vele maniere waarop jy daagliks tyd kan inrig om jouself te vier!