JOU PLAN VIR 2023?

Gemoedelik word die nuwe jaar begroet – dankbaar dat ’n  volle COVID-vrye jaar verby is waarin ons nie huis toe gestuur is met aktetassies, lêers, skoolboeke en ekstras van alles net ingeval ons nie vinnig weer by die inkoopsentrum kan uitkom nie. Uithouvermoë, lang werksure en selfdissipline moes opnuut weer ingedril word in 2022. Maar hier is ons nou wyser, gemotiveerd en reg vir aksie …

Effens uit die veld geslaan, loer ek so onder my helmet na my fietsrymaat toe sy tydens die eerste saamry in die nuwe jaar my ontnugter deur te vra: “Wat is jou tienpuntplan vir die jaar?”

Ek laat my nie van stryk bring nie en antwoord ewe kordaat: “Ek het gegoogle – tienpuntplanne is uit, dis outyds so ek hoef my nie te bekommer daaroor nie.”

“Regtig?” antwoord sy terug.

“Ja, moenie daaroor worry nie.”

Eers toe ons rustig koffie drink na die tyd, bieg ek dat dit my eerste wit leuentjie vir die jaar was.

Alhoewel almal al geleer het dat beplanning belangrik is en voorsorgmaatreëls ’n gegewe is, kan ons ooit voorbereid genoeg wees? Al hierdie dinge is deel van menswees, maar veel belangriker is dat vandag en elke dag ’n nuwe begin is, of dit is om beter te doen dan gister, of om jou bes te doen met alles wat oor jou pad kom. Dit wat jy verwelkom en dit wat jy eerder sou wou vermy. Die lewe gebeur en die lewe gaan aan … Al het ek nie ’n  plan nie, hoop ek dat ek vinniger sal leer om meer vergewensgesind te wees, om met minder oordeel hardop ongevraagde gedagtes te deel, om met sagter oë na ander te kyk, om meer betrokke te raak in my gemeenskap en so kan die lys seker aangaan. Hoe sien jou plan daar uit vir die jaar?