WEES DEEL VAN GROTER GEHEEL

Elkeen van ons is besig om onsself voor te berei op die einde van ’n jaar wat vinnig naderkom. Voorbereidings vir die jaarlikse Lights & Lanterns-projek is al bykans twee maande lank aan die gang met vrywilligers wat inspring deur 2l-koeldrankbottels bymekaar en skoon te maak, kerse wat gesny word en so gaan die lys aan …

Almal word uitgenooi om op 20 Desember om 19:30 deel van die aand te word deur jou boodskap aan die “maypole” te kom hang, deur die kerse te stap en sommer net piekniek saam met familie en vriende te hou op Groot-Brakrivier se rivierbank.

Vanjaar is ons op soek na ongeveer 20 vrywilligers wat op 20 Desember om 10h00 kan kom help om houers met sand te vul en die kerse daarin uit te pak en die aand te kom help om al die kerse aan te steek. Indien iemand hul weg oopsien en betrokke wil raak, kontak Laurinda by 082 738 8011. Soos altyd, is die sukses van enige projek gekoppel aan die mense wat opdaag en kom deel in die samesyn.