LIEWE OUER 
My wense vir jou is:
- Dat jy sal besef dat jou kind ’n geskenk is, en dat dit ’n absolute voorreg is om ’n ouer te kan wees.
- Dat jy sal besef dat ouerskap nie ’n vaardigheid is nie, maar wel ’n verhouding met jou kind is.
- Dat jy altyd konneksie voor korreksie sal kies.
- Dat jy liewer sal “time in” gee wanneer jy eintlik “time out” wil gee en so vir jou kinders taal leer vir hul emosies.
- Dat jy sal onthou dat 2-5-jariges en 12-16-jariges die meeste woedebuie sal hê omdat hul breine enorme konstruksie ondervind.
- Dat jy sal onthou dat jou hoërskooltiener “trigger happy” sal wees omdat hoërskool baie stresvol is en die amagdala die tiener moet veilig hou totdat die prefrontale korteks klaar ontwikkel is … en dit vind eers plaas rondom 25-jarige ouderdom.
- Dat jy sal onthou jy het ’n “CEO” (prefrontale korteks) in jou brein wat emosies en impulsiwiteit beheer wat jou tiener nie het nie.
- Dat jy vir jou tiener ’n veilige spasie sal gee in jou huis waar jou tiener se amagdala maar mag ontplof sonder dat jy elke keer daarop reageer.
- Dat jy weer en weer sal sê: “This is not about me.”
- Dat jy vir jou tiener toelaat om sy/haar kamer in ’n veilige spasie te verander wanneer hulle hoërskool toe gaan.
- Dat jy sal onthou dat ’n kind slegs een volwassene nodig het om te floreer in die lewe, as ’n ouer wat konsekwent en voorspelbaar “daar” is vir die kind. So, liewe enkel-ouer, jy hoef nie “albei” ouers vir jou kind te probeer wees nie.
- Dat jy bewus sal wees van jou bagasie (uit jou kinderlewe) wat jy saamdra wanneer daar konflik in jou huis is.
- Dat jy sal onthou: “Perfekte ouers bestaan, maar hulle het nog niekinders nie” en “As jy van beter weet, kan jy beter doen.”
- Dat jou kinders eendag sal sê: “My ouers was nie perfek nie, maar hulle het my unieke menswees gerespekteer sodat ek kon floreer.”