MAAK DINGE VIR JOU WERK

Vir diesulkes wat min, iets, baie of niks van my weet, het dit moontlik met verloop van tyd duidelik geword uit my skrywes, woorde en dade dat ek nie eintlik ’n wintermens is nie. Nie net voel ek ingeperk met die korter dae nie, maar die aantrek van lae klere strem my woelige geaardheid. Soos in die geval van baie ander mense dra die son by tot my hoë energievlakke en daarvan is daar beslis nie altyd genoeg gedurende die wintersdae nie … so hoe nou gemaak?

Met die aanskuif van die son tydens die draai van seisoene het ons almal maar begin aanpas en besluit dat ’n kopskuif makliker is dan om hardkoppig en nukkerig te wees.

Winter bring ’n hernude bewustheid  van  hoe aanpasbaar die mensdom is, om sagkens saam met die seisoensverandering jou eie wentelbaan aan te pas. Die winter bied vir ons die geleentheid om ons tempo te verander, meer in aanvoeling met die wisseling van temperature te wees, beter te beplan, om alvorens die son sak die beste uit die dag te haal, om nuwe eetprogramme en spyskaarte uit te toets, om tyd saam met vriende en geliefdes om die braaivuur te verruil vir binnenshuise kaggelvure, om boek te lees, legkaarte te bou, stokperdjies te beoefen – sonder om skuldig te voel as jy vroeër saans inkruip en jouself beloon met ekstra slaap.

So ek is terug by hoe nou gemaak …?

Vir my lê die sukses moontlik opgesluit in die werkwoord “maak”, want wanneer jy iets vir jouself maak werk, is die geleentheid om te oorleef, sukses te behaal en aanpasbaar te bly die een tree wat momentum gee vir die volgende seisoen en seisoensverandering wat op jou wag.