Manneloog

Grootbrak Leeskringlede en besoekers se hartsnare is op 10 Julie by Art@39Long geroer deur twee uiteenlopende digters van ons kontrei.
Johan Rabie Murray, plaaslike inwoner van Groot Brak, het uit sy twee digbundels “geskoei” van 2017 en “intussen” wat onlangs verskyn het, aangrypende gedigte voorgedra.
Hannes Visser, bekende digter van Oudtshoorn en redakteur van die Oudtshoorn Courant het die Leeskring soms tot trane gedryf en dan weer laat skaterlag oor staaltjies uit sy outobiografiese digbundel “Die Jaar toe Pa…”.
Eerlike vrae is aan Johan en Hannes gevra en eerlike antwoorde is gegee.
Op die vraag waarom hulle skryf , het Johan gesê dat hy eers op die ouderdom van 70 begin skryf het “omdat die woorde net begin bruis het”. Vir hom kom daar net ‘n ingewing wat hy moet geregistreer. Hy skryf oor ‘n verskeidenheid van onderwerpe van vriendskap, die omgewing, persoonlike ervarings, kerk en politiek. Hy laat ons met die wonderlike gedagte dat “vriende is die hande wat God oor jou hou”.
Hannes skryf weer omdat hy van mening is dat elke persoon ‘n storie het. Hy skryf om erkenning te gee aan sy eie of ‘n ander se storie. Daardeur doen jy selfkennis op en bowenal “ek geniet dit”. Sy boodskap aan ander is: “doen waarvan jy hou, dan doen jy dit natuurlik en hopenlik goed”.
Voorwaar ‘n geleentheid waaraan nog lank herkou gaan word.