Pa: veel meer as net ‘n Broodwinner
“It’s not flesh and blood but the
heart that makes us father and son.”
Dit het die eerste keer op ‘n Maandag gebeur. Meeste mense werk dan. Die taxi hou met mening stil. Die skraal man met die swaar Spaanse aksent beduie dat ons hom €14 skuld en dat ons moet uitklim. Die strand is ook sommer net daar. Die lui seewater streel die klein, warm strandjie op Ibiza – die Mediterreense eiland in die Noordelike Halfrond.
Hy is net ‘n gewone man: kaal bolyf, dienlike swembroek. Die blou en wit gestreepte strandsak lê oopmond op die sand. Al die nodigste vir die dag is daar: sonskerm, koeldrank, skoon t-hempies, weggooidoeke. Die sambreel se skaduwee omraam die handdoek in ‘n wye sirkel op die warm sand.
Die seuntjie is seker so 18 maande oud. Pa loop agter hom aan water toe, ‘n hele paar keer. Pa gooi die bal. Gaan haal self ‘n hele paar keer. Pa en seun rol op die warm sand. Pa help met die sandtonnel wat met water volgemaak word. Seun wil nie meer nie, waggel sambreel toe. ‘n Koue versnapering word uit die sak gehaal. ‘n Weggooidoek word behendig vervang.
Die tweede keer het dit op ‘n Sondag gebeur. Dit was in die Suidelike Halfrond en dalk al winter. Die strand was koel in die laatmiddag. Warm genoeg om vreugde te deel. Geen sambreel was nodig nie.
Die dogtertjie was bietjie ouer, miskien so om en by 3 jaar. Pa loop agter haar aan: water toe. Geduldig, waaksaam. Hulle buk saam af om die uitskot van die vorige hoogwater te bekyk.
Dit wil voorkom of hierdie twee pa’s uit verskillende kulture, verskillende gemeenskappe en verskillende lande albei weet dat om tyd saam met hulle kinders te spandeer, hulle verhouding sal versterk. Dit is opmerklik dat die jonger geslag vaders ‘n radikale omkeer gemaak het. So asof hulle die besluit geneem het om dit anders te doen: om die effektiewe pa te wees wat so baie van ons jongmense in die verlede ontsê is.
Vaders wat aktief by hulle kinders betrokke is, speel ‘n belangrike rol in kinders en veral hulle seuns, se ontwikkeling. Kinders se gedagtewêreld is heeltyd besig om alles wat rondom hulle gebeur, te absorbeer. Dit sluit ook in hoe hulle deur hulle pa behandel word en selfs aangespreek word. Deur direkte interaksie kry vaders ‘n geleentheid om ‘n positiewe invloed op die ontwikkeling van veral aanvaarbare sosiale gedragspatrone te hê. Navorsing dui daarop dat verminderde betrokkenheid van ‘n vaderfiguur, die frekwensie van emosionele onstabiliteit kan verhoog.
In meeste kulture word daar van ‘n vader verwag om vyf algemene rolle te vertolk, naamlik die van voorsiener, beskermer, leier, helper en vriend.
Soos met elke ouer is dit feitlik ‘n onbegonne taak om al hierdie rolle perfek te speel. Met Vadersdag nog vars in almal se geheue, kan daar seker gevra word:
Hoe kan ek die mees effektiewe pa vir my kinders wees?
- Sien om na jou eie fisiese, geestelike en emosionele welstand. Hulle maak staat op jou.
- Wees teenwoordig in jou kinders se lewens. Moenie agter die TV, jou selfoon of by die werk wegkruip nie. Hulle wil voel dat dit wat hulle doen belangrik is vir jou.
- Beoefen selfbeheersing. Wanneer jy aan impulsiewe emosies uiting gee, skep jy ‘n onveilige omgewing en indirek, wantroue.
- Toon verbale en fisiese goedkeuring. Onvoorwaardelike aanvaarding moet gehoor, gesien en veral gevoel word.
- Geniet aktiwiteite saam met jou kinders. Gedeelde vreugde is vermenigvuldigde vreugde.
“A father is someone you look up to no matter how tall you grow.”