‘PETRO HANSEN SE AFRIKAANS SMELT SOOS BOTTER OP DIE TONG’

“Aandskemering. Rintinkel. Winternag. Hantam. Dit is woorde wat ek gebore is om te sê… Awendster. Pypkaneel. Kotiljons. Kalbas. Appelliefie. Ons mooie Afrikaanse taal rol soos botter op my tong. Ek weet dit. Die winkelassistent in Woolworths vir wie ek nou die dag vra om vir my twee heel gaar hoenders oor die toonbank aan te gee, weet dit ook. “Can you please give me two hot chicks?” vra ek. “Hû?” sê sy.”

Petro Hansen, bekende rubriekskrywer in Beeld en Die Burger, se bundel kortverhale Vervleg, is onlangs in Grootbrak by die kunsgalery Art @ 39 Long bekend gestel. Petronel Baard se roerende opening met die seëngebed Pie Jesu van Andrew Lloyd Weber, was besonder gepas. Petronel is ʼn Afrikaans kabaret sanger, wat die meeste van haar werk self skryf, komponeer of verwerk. Een van haar besonderse verwerkings, Antjie Krog se Kaalvoetgedig, is met luide toejuiging ontvang.

Kristie Herbst met haar melodieuse stem (wat destyds in die TV-reeks Nommer Asseblief gespeel het), het met Petro oor haar boek gesels. Petro het vertel dat sy, soos Daleen Mathee, ‘nie fiksie kan skyf nie’. Sy gee nie voor nie en sy maak nie stories op nie. Sy gebruik waarneming, humor en handhaaf ʼn fyn balans om emosies af te wissel. Petro het ook haar ma Gerda, wat die besonderse aand gereël en georganiseer het, bedank vir haar liefde en ondersteuning. Petro se pa, destyds ʼn Vlootkaptein, was ook lief vir poësie. Sy het die boek aan hom opgedra ‘Pappa Dries, hier is die boek wat jy altyd gesê het ek moet uitgee, maar wat nou te laat is vir jou.’ Petro het oor Vervleg en haar ouers gesê, ‘wanneer ek oor die liefde dink, kom my ma en my pa se gesigte by my op.’

Van die menige gaste wat hierdie stylvolle en suksesvolle bekendstelling bygewoon het, was die skrywers Maretta Bellingham (Rapport se Klitsgras rubriek), Elenor Lombard (bekend vir haar reis rubrieke en Die son se donker kant) asook Rina Celliers.

Vervleg is by uitgesoekte boekwinkels beskikbaar of op Protea Boekwinkel.

ISBN 978-1-4853-1082-2