SANDSIRKELS EN KLIPKRINGE
Die inkomende gety spoel oor die lyne wat die kunstenaar in die sand getrek het, terwyl die wind die takkies uit die boommik waai onder die Outeniekwa-geelhout waar die Knysna Loerie koggel …
Landkuns is ’n kunsvorm wat tegnies gesproke in die sestigs ontstaan het in die VSA en Europa, maar prakties gesproke maak ons almal landkuns as kinders wanneer ons in die sand vorms bou; diertjies maak met takkies, blare en vere; of patrone teken met water op plat rotse. Waar dit ’n kunsvorm raak, is wanneer die fokus of uitgangspunt is om die mees visueel of konseptueel stimulerende beeld te skep deur die erkende kunselemente soos kleur, lyn, vorm, ritme, ensovoorts toe te pas, en so ’n gesprek te hê met die omgewing wat emosie opwek, ’n boodskap oordra, of ’n spesifieke aspek van die plek beklemtoon. En dit alles deur primêr of alleenlik te gebruik wat gevind word in die omgewing – die sand, klippe, droë blare en takke, water, modder, skulpe, vere, bene, en ander natuurlike items – om iets te skep wat impak het, maar wat oor die verloop van tyd verwoes word deur die wind, water, diertjies se skoffel of natuurlike erosie.
Strijdom van der Merwe se naam is sinoniem met landkuns in Suid-Afrika, soos ook ander kunstenaars soos Anni Snyman, PC janse van Rensburg (wat die Karoo-geogliefprojek geskep het), Annie le Roux, Leli Hoch (direkteur van die Tankwa Artscape-projek) en Andrew van der Merwe (bekend as die “Beach Scriber”).
Landkunswerkswinkels is vir my die lekkerste manier om landkuns te deel – eerder as ’n foto of video raak mense deel van die proses, hulle herontdek hul eie kreatiwiteit en kinderlike geluk, of begin meer bewus raak van al die klein besonderhede, kleure, teksture, reuke en klanke van die omgewing rondom ons …
Janet Botes sal landkunswerkswinkels aanbied tydens die Musefees in September 2023. Datums sal aangekondig word in The Post.