KWIKKIEKOS
Die kwikkies het my mak gemaak. Ek sou sê hulle het my na die hand geleer, maar hulle is mos handlose klein voëltjies met vier fyn toontjies. Volksname verwys so treffend na diere se voorkoms of gedrag, dit is ’n tipe poësie op sigself, wat ons gewaarwordings verryk. Kwikstertjie, sê my voëlboek. Ook wipstertjie – elke keer in die verkleinvorm. Want klein is hierdie ou voëltjie natuurlik wel. Langs ’n geelvink lyk hulle delikaat. Die kransduif lyk enorm, byna brutaal langs die kwikkie op my balkon.
My voëlboek is oud en die kwikkie se geaardheid klink so amper vorige eeu naïef in die gejaagde wêreld van 2023. So skryf Roberts Bird Guide kwikkies is “tame and confiding”. Dit laat die hart vermurwe, kleine Willy Wagtail, wilde voëltjie met die groot lus vir gerasperde kaas.
Ek lees ek mag hulle nie eintlik kaas voer nie, hulle kry cholesterol en hulle bene kan verswak en skeef groei. Dan maar balans probeer vind, ’n kontrak met hulle aangaan. Heeldag moet hulle goggas en muggies en motte vang, slegs vir ’n kwartiertjie ná vyf gee ek flentertjies kaas.
Deur die loop van die dag kom sit hulle heerlik op my bed, op my waaier en selfs op my woordeboek terwyl ek werk. Ons praat met mekaar. Hulle ken die woorde “kom” en ook “nee”. Hulle hou nie baie van “nee” nie. Hulle weet ook watter van die stemmetjies ek kan weerstaan en watter weemoedige uiting my sal laat ingee vir ’n ou happie. Jip, ek is goed getrain.
Troeteldiere wat mak is, maar wild. Voëls wat nie aan my behoort nie, hulle is vry. Klein lyfies wat groot vreugde verskaf, lei ook tot vermaak en soms vat digters die humoristiese oomblik vas.
jy met jou wip-wip-stertjie
wat op my stoep kom sit
jou boodskap los in ’n koevertjie
op my stoep lê dit so wit
Gerrit Theron, Hartenbos
In die alledaagse skuil buitengewone vreugdes, as ons maar die verwondering kan kweek om raak te sien. Hier word ek nou juis opgekommandeer, die dag loop ten einde, “my” kwikkies wil eet voor hulle gaan slaap.
René Bohnen sal ’n skryfwerkswinkel aanbied tydens die Musefees in September 2023. Datums sal aangekondig word in The Post.