SEISOENE …
My biologiese wekker maak my vroegoggend wakker. Optimisties, opgewonde skuif ek die kamergordyne weg, maar dis donker buite, baie donker. Eensklaps besef ek die somer het aangeskuif sonder dat ek eers daarvan bewus was. Ek was vas oortuig dat ek vir oulaas “boogie bord” sou kon ry saam met die Boogie Brigade-groepie, maar helaas. Wanneer daar so ’n onbewustheid van gebeurlikhede plaasvind, weet ek dit is tyd om na my plekkie te gaan waar ek net weer ’n “voetrus” kan vind sodat siel en liggaam een kan word.
Stap op die stofpad met hektare oënskynlike niks en tog so baie, berge wat jou beskermend toevou, sterrehemel binne jou hand se bereik, gedagtes wat gewissel word met vriende wat jou hartklop ken, brood breek, wyn drink, albasters speel en baie lag.
Wat ek wel kon uitpluis, is dat alles soms oorweldigend raak, dit wat voorsien kan word sowel as die onvoorsiene, die konstante veranderlikes, dat daar verliese is, sowel as geleenthede. Dat ons dikwels geen beheer het oor die impak van omstandighede of die uitwerking daarvan op ons lewens nie. Alles dra by tot die onbewustelike oorleef van dag na dag.
So wat nou? Waar vind ek die ritme van ’n bewustelike leef in hierdie tyd en spasie? Natuurlik kan ek net praat namens myself, my stukkie vashou en behoud op hierdie lewensreis.
- Al wat ek het, is vandag. Wat het ek nodig om vandag gelukkig te wees en te voel?
- Veranderlikes is ’n gegewe realiteit, hoe kan ek hierdie veranderlikes tot my voordeel aanwend?
- Die gevoel van verward en verlore wees, ervaar elkeen soms in ’n mindere en meerdere mate, maar wat is nodig om sinvol een tree op ’n slag weer vorentoe te gaan?
- Skat en bepaal jou eie waarde, ontdek jou eie stil antwoord, vind vaardighede van binne wat altyd tot jou beskikking is en gun jouself die geleentheid om dit te ontdek en daagliks toe te pas.
Miskien sal dit goed wees as daar meer dikwels “voetrus”-plekkies opgesoek word in ons daaglikse leef en uitleef van ons potensiaal. So kan jy jouself herontdek en behoue bly te midde van, ten spyte van, maar nooit ten koste van nie terwyl die seisoene aanskuif sonder of met jou.