SLUIT AAN BY DIE POTGOOI REWOLUSIE!

As jy nog nie die wonder van potgooie (Engels: podcasts) ontdek het nie, het ons vir jou goeie nuus! Potgooie is vir daardie dae wat jy besig is met ‘n stokperdjie en moeg is vir jou Spotify luisterlys, nog nie ‘n nuwe boek by die biblioteek gekry het nie, of sommer net lus is om na iets interessant te luister.

Potgooie is meestal beskikbaar as ‘n reeks klankopnames oor ‘n spesifieke onderwerp of geleentheid. Hierdie klankopnames kan op jou rekenaar, tablet of selfoon afgelaai word. Jy is dus nie heeltyd afhanklik van ‘n internet konneksie om te kan luister nie.

Soos boeke, flieks, TV reekse ensomeer, dek potgooie ‘n wye verskeidenheid van onderwerpe. Komedie is verreweg die gewildste potgooi-genre, maar reekse oor ware misdaad, nuus, en besigheid, is ook baie populêr.

Wat maak die formaat so gewild? Een van die aanloklikste dinge ten opsigte van potgooie is hoe toeganklik dit is. Baie reekse is gratis beskikbaar, en ‘n mens kan enige plek daarna luister.

Die maklikste manier om uit te vind hoekom potgooie so gewild is deesdae, is om self in te spring. Dis makliker as wat jy dink! As jy reeds Spotify gebruik om na musiek op jou foon te luister, klik op die Podcasts knoppie heel boaan jou skerm wanneer jy die toepassing oopmaak. Nog potgooi programme is Stitcher (vir android fone) en Apple Podcasts.

Jy kan ook op jou rekenaar na potgooie luister, maar dan moet jy heeltyd vir hom sit, en dis mos gladnie so gemaklik soos wanneer jy jou foon gebruik nie.

Sodra jy ‘n potgooi program het, begin die pret! Klik net op die vergrootglas (die Search opsie) en tik in waarna jy soek. Om jou ‘n hupstoot te gee het ons ‘n paar oulike idees.

You’re Wrong About

Sarah en Mike is joernaliste met ‘n gesonde obsessie met die verlede. Elke week bespreek hulle ‘n geleentheid, persoon of verskynsel waaroor wanopvattings bestaan.

 

The Mel Robbins Podcast

Mel se doel met haar potgooi reeks is eenvoudig: sy wil beproefde metodes met jou deel wat jou help om ‘n beter lewe te skep. Saam met Mel sal jy heerlik lag, soms ‘n knop in jou keel kry, en in die proses baie by haar leer.

 

Stuff You Should Know

As jy al ooit gewonder het oor wat
misofonie is, hoe die borreltjies in sjampanje beland, hoe dopamien nou eintlik werk, of sommer net hoekom jy nie kan slaap nie, is hierdie potgooi reeks vir jou.