DIE MUSEFEES 2024 IS OM DIE DRAAI
“’n Viering van kreatiwiteit, gemeenskap en interaksie.” Dít, beloof die organiseerders, gaan vanjaar die sielskos van die nou reeds bekende Musefees op Groot Brakrivier wees. Die dorp het reeds die afgelope drie jaar gasheer gespeel vir die fees wat in 2024 op 21, 22 en 23 September plaasvind.
Laurinda Smit, organiseerder, sê wanneer daar ’n geleentheid op ‘n dorp plaasvind, kom mense van omliggende plekke om dit by te woon. Sodoende leer hulle heelwat meer oor die gasheerdorp. “Plaaslike inwoners kom byeen vir al die georganiseerde aktiwiteite. Die sakesektor vind baat by meer voete en oop harte – kettingwinkels, sake-ondernemings, entrepreneurs, restaurante en selfs vulstasies. Die waarde van so ’n feestelike geleentheid moet nooit onderskat word nie.“
Vanjaar se program gaan vir die natuurliefhebber, historici, sowel as musiek-, drama- en kunsliefhebbers iets bied. Die jeug kan beslis naderskuif, so ook individue wat hulle hand wil waag aan een van die talle “Masterclass”-werkswinkels wat aangebied word.
Vir die wat slegs rustig agteroor wil sit en luister na kundiges, bied vanjaar se program vir seker iets nuut. Die immer gewilde Muse-lin* kompetisie skop vanjaar af met 24 restaurante wat genader is om deel te neem. Elke deelnemende restaurant gaan ʼn “mystery box” ontvang met ‘n aantal bestanddele, waarvan ten minste een gebruik moet word in hulle dis.
Die Musefees skep die infrastruktuur en die geleentheid.
Dit staan individue en organisasies dus vry om betrokke te raak by wyse van werkswinkels, uitstallings en praatjies om so die geleentheid aan te gryp en voorstelle en ’n inkomste vir hulleself te genereer. Tydens die Musefees word die totale gemeenskap geïnspireer en saamgesnoer.
Die Musefeesprogram sal reeds vanaf 19 Augustus 2024 beskikbaar wees op die fees se webwerf – www.musefees.co.za – asook in die September uitgawe van The Post.
Volg ons op Facebook by https://www.facebook.com/musefees. Kontak Laurinda Smit by 082 738 8011 vir verdere navrae.