DIE KRAG VAN ‘n VROU MET ‘n PEN

,

As ek my oë toemaak en my ma onthou, dan sien ek haar hekel. Voor die TV, op haar stoel langs my pa s’n wanneer hy vuurmaak vir braaivleis, selfs in die kar op pad see toe. Sy was altyd besig om iets moois te maak. My ma se gene sit stewig in my lyf, want ek dink ek is deesdae “hooked on” hekel.

Hekel of brei is nie ‘n stokperdjie nie: ek sien dit as ‘n uiters noodsaaklike oorlewingsvaardigheid. Wanneer my hande besig bly met wol en ‘n hekelpen, val my gedagtes gemaklik in ‘n verstaanbare ritme en die dag se chaos word stil.

My sussie stuur ‘n rukkie gelede vir my hierdie:

“Did you know? The rhythm of knitting and crochet helps with serotonin release.  This is the chemical transmitter that helps regulate anxiety, happiness, and mood.”

My Google was vinniger oop as wat jy kan sê “Wol!”. Hier is kortliks wat ek uit my nuuskierigheid geleer het.

Meer as een sintuig word ingespan wanneer jy met wol werk. Wolkoop maak dit my so gelukkig. Visuele en tas-stimuli help om dopamien, die goedvoel hormoon, vry te stel.  Dit lei tot emosies wat verband hou met beloning, motivering, en produktiwiteit. Wanneer jy na wol kyk, vind jy selfs baat uit die voordele van kleurterapie. Al maak ek (nog) niks daarmee nie, die wol in my naaldwerkkas verskaf my eindelose vreugde.

Handwerk kan angstigheid verlig en serotonien laat vrystel. Jou liggaam het ‘n hele paar maniere waarop hy van angstigheid ontslae probeer raak.  ‘n Voet wat op en af wip of vingers wat dromspeel is maar twee voorbeelde. Die ritmiese, herhalende bewegings van handwerk-aktiwiteite kan ook help om serotonien vry te stel.  Hierdie hormoon is ‘n natuurlike pynstiller en antidepressant wat met gelukkige emosies geassossieer word.

Handwerk help om die risiko van Alzheimers teen te werk. Navorsing wat by die Mayo Kliniek gedoen is, het gevind dat die risiko van geheueverlies 40% laer is by mense in die ouderdomsgroep 70 tot 89, wanneer hulle gedurende hulle middeljare gereeld besig was met lees of breiwerk.

Handwerk help jou uitreik na die gemeenskap. Daar’s ‘n gesegde wat sê: “Moenie die krag van ‘n vrou met ‘n hekelpen in haar hand onderskat nie.” Leer jou kinders hekel of brei, stop jou man ‘n paar penne en wol in die hand, laat hulle die lekker  leer ken van besigbly en harte blymaak met jou handewerk.

Daar is soveel geleenthede om iemand anders se dag op te vrolik met iets wat jy gemaak het. Hekel ‘n mussie vir ‘n kankerpasiënt, of brei ‘n serp vir die man wat jou in die tuin help. Wanneer jy diensbaar is gee dit jou lewe dieper betekenis. Die wete dat jy iewers ‘n verskil maak, is dalk die heel lekkerste gevoel wat daar is.