Spekboomsensasie

Annlerie van Rooyen

Wie sou kon dink dat ons inheemse spekboom so gewild sou raak dat 164 000 bome gebruik sou word om in Stellenbosch die grootste labirint in Afrika mee te beplant? En met reg ook, want hierdie plant beskik oor kenmerke wat tot groot voordeel van almal strek.

Die spekboom of elephant bush(Portulacaria affra) suiwer die lug omdat dit meer koolsuurgas uit die lug absorbeer as enige ander plant ter wêreld en dit gebruik om sy eie plantweefsel te skep. Aangesien aardverwarming deur koolsuurgas veroorsaak word, is dit dus beslis die moeite werd om plek daarvoor in jou tuin te maak. Dit is droogte- en hittebestand, word tot 4 meter hoog en kan in heinings, as struike of klein bome in die tuin of in potte geplant word. Die blare bly heeljaar mooi groen, dit verg baie min aandag en water en kan met ander sukkulente gekombineer word om ’n pragtige vertoning te lewer. Vanaf September tot Maart verskyn die delikate pienk blomme in oorvloed, veral as dit goed gereën het.

Die blaartjies is sappig en kan as waardevolle veevoer dien in droë streke en is ook geliefd onder buffels en olifante. Spekbome is ook baie gewild onder bye. Die blare kan ook deur mense geëet word (dit bevat baie vitamien C) en het ’n suur, suurlemoenagtige smaak. Strooi dus gerus van die blare in slaai of voeg dit by ’n resep vir ’n heerlike ekstra smakie (kyk na die resep, Tamatiebredie met spekboom).

Tradisioneel is die blare gekou en gesuig om ’n seer keel  en mondinfeksies te behandel en kan vir allerhande velkwale soos uitslae, insekbyte, sere en selfs vir sonbrand gebruik word deur dit oor die aangetaste dele uit te druk.

Boonop is dit baie maklik om te kweek – breek net stukkies daarvan af, laat dit ’n paar dae droog word en plant dit dan in die grond. Maak dit aanvanklik nat totdat dit gevestig is. Net soos alle ander plante, sal spekbome floreer as jy dit plantvoedsel gee.